My huis, my mense

Lees Psalm 101.

In my huis wil ek lewe in opregtheid (v 2).

Dit is ’n lied dié. Die digter sê uit die staanspoor hy wil oor die Here se liefde en geregtigheid sing. En toe sing hy!

Hy sing oor alles wat hy haat: dit wat verkeerd is, dit wat vals is, almal wat hoogmoedig en vermetel is. In sy paleis, só sing hierdie koning-sanger, sal hy net mense aanstel wat vertrou kan word en wat self op God vertrou. Geen leuenaars nie, geen bedrieërs nie. Boonop sal hy van al die goddeloses en onregplegers ontslae raak – kyk maar!

’n Triomfantelike lied, vol vertroue, vol selfversekerdheid. Dit is ’n sanger wat oortuig is van wat hy wil doen en seker is dat hy dit sal regkry.

Dit is ’n mooi lied waaruit ons, eeue later, baie kan leer. Dalk kan ons veral ook sy frase oor “my huis” (v 2) behoorlik oordink. Dit maak nie regtig saak of hy hiermee na sy slaapplek of na sy regeerplek verwys nie; die waarheid is dat hy hier praat van die mense wat sy leefruimte met hom deel. Hulle wat met slaaptyd en tydens etenstyd en geselstyd en lagtyd die naaste aan hom is.

Dit is aan hulle wat hy hierdie onderneming gee: Ek wil in opregtheid voor julle lewe. Ek wil julle met ’n onverdeelde hart in die oë kyk. Julle is my nááste naaste en ek wil hê julle moet dit weet.

Wanneer ek dan dinge doen en besluite neem wat nie oral ewe gewild is nie, moet julle, van almal, van my opregtheid oortuig wees. Juis ook wanneer ek foute maak.

Julle is ál wat ek het. Julle, en die God wat julle aan my toevertrou het.

Here, ek vra mooi: Kyk mooi na my mense! En leer my om hul belange teenaan my hart te dra.

Barend Vos