“My reënboog”

Lees Genesis 9:8-17.

Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere … my reënboog het Ek in die wolke geplaas” (v 12-13).

Die Noagstorie is een van daardie Bybelverhale waarvan ons die helderste prentjie in ons kop het. Miskien is dit die nalatenskap van die Kinderbybel van ons kleintyd. Dalk is dit die entoesias­me van ’n kindertydse onderwyser of ’n ma-met-verbeelding wat daardie beelde gevorm het – dié van die reuse-ark, die diere, die duif met die takkie. En die reënboog.

Noudat ons groot is, is die prentjies nie minder helder nie. Maar ons talle vrae – en waarskynlik suiwer sinisme – oor dié verhaal het straks nou die oorhand gekry. ’n Vloed wat die hele wêreld oorstroom? Die ganse diereryk in ’n houtskip, groot ofte nie? En is ’n reënboog nie maar die gevolg van die sonlig wat deur waterdruppels in die atmosfeer in die kenmerkende kleure opgebreek word nie?

Sekerlik, ja.

Sonder die minste twyfel is ons in ons volwasse ingeligtheid besig om al die verkeerde vrae aan hierdie verhaal te vra, en só is ons gewaarborg om al die verkeerde antwoorde te kry. Feit is: Die Noagstorie vertel ons herhaaldelik van God se sorg, sy trou, sy geduld. Sy tweede, derde, veertigste en hoeveelste kans aan mense van alle tye.

Hier is die eintlike prentjie: God-met-Noag in die genadeskip, daardie reuse-reddingsboot; God-by-ons in die woeste waters wat ons wêreld wil verswelg. Kyk, hier is die duif, en daar die veel­kleurige teken: Hy is hiér!

Here God, geen storm sal u kinders oorweldig nie. U is by ons. Dit was nog altyd so.

Barend Vos