’n Ander storie

Lees Psalm 106:6-12.

Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig (v 6).

Here, ons trek dikwels ons skouers op
oor die sondes van ons vaders
en steek ons hande blankskoon uit.
“Hulle het mos bloot gehandel
met die lig tot hul beskikking.” Sê ons.
Maar, voeg ons graag daarby, daardie lig
is nie óns s’n nie. Ons lag te lekker:
“Óns leef in ’n heel ander duisternis!”
Fluit-fluit was ons dan ons hande. Dié storie is uit.

Maar, Here, U weet mos óns weet dat daardie
lig-tot-hul-beskikking net ’n gedienstige gedeeltetjie
van die waarheid is. Die feite vertel ’n ander storie –
en dít sal woord vir woord aan ons bly kleef.
Ja, die destydse dwaling was uiteindelik ook ons s’n:
Die sogenaamde “God Almagtig” wat hulle – na hul beeld –
vir hulle geskep het, dié is toe mos aan ons bemaak.
En ons was tog te dankbaar vir daardie erwe van ons vaad’re …

Sý kop kon ons draai; deur hóm kon ons buikspreek.
Ons sondes het hy bly miskyk; vir hom kon ons
in besonderhede ons begeertes benoem en na hartelus glo.

En dan is daar die gerieflike geheueverlies wat ons ook
ontvang het. Die onvermoë om te onthou: die ware God
se oorvloedige liefde; die volgehoue ywer vir verontregtes.

Sy verbysterende vermoë om te vergeef.
Om uiteindelik ook óns te vergewe.

Daarom vertrou ons opnuut op U, die God van weerbegin.
Ons weet goed waar ons vandaan kom; ons kyk dag ná dag
na ons hande, en steek dit nou veel makliker in eie boesem.
En ons glo dat U gans anders is as die godjie wat ons
met ons saamgedra het: daardie ondraaglike las,
en sy verhaal van goeie bedoelings en ewige verontskuldiging.

Ú, Here, vertel ’n ander storie.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: