’n Geskiedenisles

Lees Psalm 106:1-12.

Ons het gesondig, net soos ons voorvaders (v 6).

Die hele lange psalm 106 (48 verse lank) bied ’n oorsig van die Ou Israelvolk se geskiedenis. Al die groot en goeie dinge, al die minder groot en minder goeie tye word in herinnering geroep.

Daar kom egter telkens iets by: Dit word ’n geskiedenisles met ’n verskil.

’n Vername verskil. Want die digter sien die Here in elke hoofstuk van hierdie geskiedenis raak. Hy stip sy rol in elke episode aan. Ent-ent praat hy sommer met Hom. Sê hy dankie dat die Here nie sy voorouers behandel het soos hulle verdien het om behandel te word nie. Loof hy Hom vir sy redding uit ellendige situasies, ten spyte van die volk se halsstarrige verset. Uiteindelik, sê hy, het die volk die Here se beloftes geglo “en sy lof besing” (v 12). Uiteindelik. Net in die daaropvolgende vers, egter, wat met ’n “maar” begin, hervat die siklus opnuut: die volk se skandelike gedrag teenoor die Here se liefde; die volk se ongeloof versus die Here se vergifnis. ’n Skynbaar nimmereindigende kringloop …

Wie is dit tog wat gesê het ons leer net een les uit die geskiedenis en dit is dat ons nooit enigiets uit die geskiedenis leer nie? In Psalm 106 leer ons dit opnuut. Ook in ons eie mense se geskiedenis, én in ons persoonlike verhale. Ons storie met die Here lê mos besaai met ons verbreekte beloftes, ons krokodiltrane, ons gejammer en geasseblief, ons uitgesnikte ek-sal-dit-nooit-weer-doen-nie.

En om die eerste hoek en draai doen ons weer wat ons wil. Sê ons wat in ons kop opkom. Dink ons soos ons nog altyd gedink het. Ontken ons dat ons aan die Here behoort.

Ons leer nie.

Here, tog! Keer my, maak my stil, moet my net nie los nie!

Barend Vos