’n Goeie Herder

Lees Johannes 10:11-21.

“Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei” (v 15-16).

Aha, die Psalm 23 van die Nuwe Testament! Wat ’n mooi Jesusgelykenis! Vol eenvoudige beeldspraak, klinkklaar in sy bedoeling. Goed verstaanbaar vir almal wat maar ore het. Én oë wat van hulle en hul eie belangegroep af kan wegkyk. Want hier, midde-in die helder sekerhede, voeg Jesus by: Ek het nog ander skape ook.

Wie sou húlle wees? En wat sou so “anders” aan hulle wees dat hulle nie in “hierdie kraal” gehuisves word nie?

Skrifverklaarders het deur die eeue verskeie moontlike verklarings hiervoor aangebied, en ook hier geld daardie ou spreekwoord: soveel hoofde, soveel sinne. Kortom: Amper elke verklaarder bied ’n geldige uiteensetting van wat die oplossing vir hierdie verreikende uitspraak kan wees.

Dit is prysenswaardig dat daar so ernstig hieroor nagedink word. Dit is immers Jesus se eie woorde dié. En, laat ons maar ook hieroor eerlik wees, dit is ’n omstrede kwessie. Koelkopdenke is dus die aangewese roete.

Maar terwyl ons saam met die geleerdes hieroor dink, die verskillende moontlikhede oorweeg, die moontlikheid oop laat dat ons verras of dalk selfs ontstel gaan word – kom ons kry dan net oor een eenvoudige sakie eenstemmigheid: God is groter as wat ons dink. Hy dink verder as wat ons ons kan verbeel. Die goeie Herder se arms strek wyd, dit omvat méér as net my plaaslike klein kraaltjie. Niemand kan tog hiermee verskil nie – of hoe?

Dan beteken dit mos ook ek moet mooi dink wanneer ek so maklik praat van “ons” God. Daar is beslis ook ander “onse” in daardie pond.

Leer my, my goeie Herder, dat die goeie God die hele wêreld só liefgehad het dat Hy U hierheen gestuur het.

Barend Vos