’n Groot mond …

Lees Spreuke 18:6-12.

’n Dwaas se mond is sy ondergang, sy eie woorde is ’n dodelike strik (v 7).

Hoe goed ken ons dit nie: die skade wat ’n groot mond aanrig. Baie van ons was al aan die ontvangkant van ’n dwaas se dwase woorde. Ons het die skade daarvan aan ons eie gees gevoel.

Daar is natuurlik ook vele wat die ellende van ’n groot mond goed ken omdat hulle die eienaar en alleengebruiker van daardie mond is. Dié wat moeilikheid soek wanneer daar nie is nie. Wat krap waar dit nie jeuk nie. Die ou mense het nie verniet gesê ’n toe mond is ’n heel mond nie …

Later, in die Nuwe Testament, sou Jakobus in sy brief heelwat te sê hê oor mense – gelowiges! – met ’n groot mond. En deur die bank erg negatief (Jak 3:1-12). Hy sou ook dié gesonde raad gee: “… elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie …” (Jak 1:19).

Want dit is die éintlike dwaasheid van ’n groot mond: Hy het nie ore nie. Hy luister nie as iemand anders praat nie. Hy bly nie lank genoeg stil om die ander kant van sy luidkeelse standpunt te hoor nie. Hy argumenteer sonder ophou en babbel sonder begrip.

Daarom moet dwase nie huil as hul mond met mening gesnoer word nie. En gelowiges wat keer op keer hul mond verbypraat, moet tog nie “Here! Here!” roep en slagoffer speel as ander mense, juis ook ongelowiges, hul maklike woorde as “dwaas” tipeer nie.

Dit sal ons almal loon, juis omdat ons kinders van die sprekende God is, om opnuut te besef: Baiepraat en Grootpraat is ’n tweeling, met Laster, Lieg en Skinder as hul drie kleinboeties.

Here, laat Insig en Diskresie en veral Liefde en Deernis tog die wag hou oor my groot mond!

Barend Vos