’n Helder woord

Lees Psalm 147:15-20.

Hy maak sy woord aan Jakob bekend … (v 19).

As die seisoene aan die Here behoort, soos hierdie psalmdigter sing, is dit tog vanselfsprekend dat Hy enigiets kan doen. Soos en wan­neer Hy wil. Dit is dus Hy wat die stad bewaar, wat die vrede gee, wat seën en voed. Daarom: Loof die Here, prys Hom!

Daar kan geen verwarring hieroor wees nie; sy woord is ’n ere­woord en sy dade pas naatloos by daardie woord.

Sy kinders kan dus gaan slaap in die wete dat Hy beskerm, vér bo hul verwagting. En wanneer hulle soggens opstaan, kan hulle weet dat Hy voorsien, vér bo hul gebede. Daarom: Loof die Here, prys Hom!

Ons, die Godskinders, sal nooit kan sê ons het nie geweet nie; Hy het ons dan self gesê. Ons het voorregte wat niemand anders het nie. Ons bluf niemand met ons siende blindheid en horende doofheid nie, allermins vir Hom.

Hy word ook nie gyselaar gehou deur ons “hoekom?” en “waar­om?” wanneer ons dit bloot gebruik om sy wil vir ons lewe te ontduik nie. Wanneer ons, kamma verward, sulke vroom vragies gebruik om weg te kom van sy duidelike voorskrifte en bepa­lings nie.

Ons, die bevoorregtes, se reaksie op sy helder woord het be­slissende betekenis vir ons medemens, juis ook vir dié wat Hom nie so goed ken en nie soveel troos en seën en vrede soos ons beleef nie. Ons word geroep om hulle te leer sê: Loof die Here, prys Hom! En om dit dan met ons dade te bevestig.

Liewe Here, leer my om hande en voete te gee aan my lof vir U.

– Barend Vos