’n Koninkrykstorie

Lees Lukas 13:18-21.

“Dit is soos ’n mosterdsaadjie … Dit is soos suurdeeg …” (v 19-21).

Dit is die storie met die koninkryk van God: ’n Bietjie word báie. Klein word gróót. ’n Geringe daad het ’n enorme invloed.

Dit is die allertroos vir koninkrykskinders: Hul geringheid hoef nie tot geringskatting te lei nie. Juis hul kindskap van God maak van hulle reuse in hul Vader se hande. Die gemaklike manier waarop hulle in sy arms pas, maak hulle swaargewigte in sy diens.

Die “koninkryk van God” (v 18) is ’n dinamiese begrip – dit is die afleiding wat ons hier kan maak. Dit groei, dit deursuur. Dit het ’n positiewe invloed op die omgewing.

En, nee, dit beskryf nie allereers ’n vaste plek nie – allermins “die hemel” of “die hiernamaals”. Dit is nié “later se bekommernis” nie, vir seker nie vir “eendag, as ek groot is” nie. Die koninkryk van God is ’n omgewing waar God se kinders Hom elke dag in aksie sien. Waar hulle-met-die-oop-oë sy werkwyse herken, hulle daaraan verwonder en dankbaar die vrugte daarvan pluk.

Dit is ook hiér waar hulle die koninkryk se wette leer ken: die skadu wat Godskinders vir almal moet maak, die skuiling wat hulle aan ander moet bied. Soos ’n boom wat voëls verwelkom wat nes maak in sy takke.

En dit is hier waar koninkrykskinders die verbysterende krag van hul Koning leer ken, die manier waarop dit voltrek word en waarop dit gestalte kry. Dit bemoedig hulle, sodat hulle dit aan almal in die omgewing wys.

God se koninkryk is koningskinders se tuisveld. Hier laat hulle vreemdes tuis voel en heet hulle besoekers welkom. Hulle streef daarna om die familie op die bes moontlike manier te laat uitbrei: Dit is deur die kring oop te hou.

Ek het by U tuisgekom, my Koning. Hier lewe ons lekker!

Barend Vos