Lees 1 Samuel 2:1-10.
“Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op” (v 8).
Soos sovele voor en ná haar wat die Here se sagte, besliste hand in hul lewe herken, sou ook Hanna daaroor begin sing.
Adam het mos reeds in Genesis 2 ’n liedjie gereed gehad nadat hy sy maat uit die Skepper se hand ontvang het. Moses sou begin sing nadat die Here sy mense deur die Rietsee laat trek het, sy suster Mirjam sou boonop begin dans (Eks 15). Die rigters Debora en Barak sou ’n duet tot die Here se eer aanhef (Rig 5). En Hanna sou lostrek met: “Ek jubel in die Here …” (v 1).
Soos Jesus se jong moeder baie jare later (Luk 1), besing Samuel se ma God se ontferming oor geringes. Hy gee aan hierdie minderes ’n ereplek! jubel dié twee vroue.
Sy hemelse woonplek is nie vir Hom te hoog of te ver om na sy kinders om te sien nie. Sy Godwees maak ons menswees draaglik
– méér: Dit maak ons lewe onder sy son en maan ’n voorreg.
Tot vandag toe sing eenvoudige mense lofliedere oor ’n Here wat hulle raakgesien het. Hulle was toe nooit te gering vir Hom nie, juig hulle. Soos Hanna besef hulle: “’n Mens oorwin nie deur eie krag nie!” (v 9). Die Here word nie deur gekoopte glans verblind nie en aangeplakte swier beïndruk Hom nie. Hy kyk tot in die mens se hart. Hy gee nie sy handewerk prys nie.
Dat Hy Hom oor swakkes ontferm en partydig vir die geringes is, beteken dat ons selfs groter oor Hom moet dink. Hy is ons Vader en ons is sy witbroodjies. Kom, laat ons vir Hom ’n liefdeslied sing!
Ek is die naam van kind nie werd. Maar U sien ver, oneindig ver. U sien my honger, dors …
Barend Vos