’n Nuwe naam

Lees Jesaja 62:1-5.

Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,” en jou land: “Die een wat aan die Here behoort” (v 4).

Die jonges noem dit: om jou naam met ’n plank te slaan. Die ou mense het gesê: Gooi tog net nie jou naam weg nie. Ons weet vandag: As jy jou naam “weggooi” (of dan “met ’n plank wegslaan”), kry jy hom nie sommer weer terug nie. Dit is nou allemansbesit. Almal ken die storie, giggel daaroor, bespreek dit agter hul hand. Die rekenaarvaardiges google daardie naam – en lag jou uit.

Wie moet die skuld daarvoor kry? Net jy self. Nie “omstandighede buite my beheer” nie; nie “die noodlot” of “die duiwel” nie. Dit is net maar jy, en jy alleen, wat dit veroorsaak het.

Dit is ook nie moeilik nie, juis nie vir kerkmense nie; selfs die vroomstes kry dit reg. Met jou woorde – dikwels; met jou dade – gereeld. En die hele wêreld lag jou uit. Te laat vir trane. Die slag is gelewer. Jou naam is Krater.

Die ou volk se ballingskap (en die skandalige redes daaragter) sou ’n swart kol in hul geheue bly. Iets waaraan hulle nie graag herinner sou wou word nie. Behalwe as jy trooswoorde daarby voeg. Soos Jesaja s’n hier: “Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het” (v 2).

Dit blyk uit hierdie treurige geskiedenis dat die Here wel raad het met sy kinders se weggegooide naam. Hy stof dit nie af of vryf dit weer blink nie – dit is heeltemal te vuil. Nee, Hy gee hulle, daardie ellendige plankslaners, ’n heel nuwe naam. Hy skaam Hom nie vir hulle nie – inteendeel. Hoor dan, sê Jesaja, Hy noem hulle nou “geliefdes”.

Hoor ons lied vir U, Here: “Hy maak sondaars God se kinders. Halleluja! Amen.”

Barend Vos