’n Salige einde

Lees 1 Samuel 2:18-20, 26.

Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind (v 26).

Dit is mos die ding met ons en die Bybelverhale – ons weet teen dié tyd hoe dit eindig. Dit verras ons nie meer nie. Neem nou maar die Samuelverhaal: Ons weet hoe sy ma hom klein-klein aan die tempeldiens gewy het. Almal onthou hoe die Here se stem daardie nag in die tempel na die seun Samuel gekom het.

Hier lees ons dat hy maar ’n jong kind was toe sy ma al vir hom klere gemaak het wat by ’n priester pas. Ons weet ook watter belangrike rol priester Samuel met verloop van jare in Israel se geskiedenis sou speel.

Is dit ’n verrassing dat die Here van Samuel gehou het – of dan, soos die skrywer dit stel, hom goedgesind was? Dit is wel interessant dat “die mense” ook van hom gehou het.

Wie onthou dat “die mense” mettertyd minder lief vir Samuel sou word? Wie weet van sy seuns se rol in die groeiende argwaan? Gaan lees maar in 1 Samuel 8 hoe bitter die lewe vir Samuel ge­word het. Hoe wispelturig “die mense” is …

Ja, gaan soek in die groter Samuelverhaal hoe verkeerde keuses en gruwelike versuim die beste voornemens kan beduiwel. Hoe jy nie te ver vooruit moet beplan nie en nie té selfversekerd moet raak nie.

En lees God se trou in dit alles raak! Hoe sy sorg en goedheid die enigste vaste punt in ’n mens se storie is. Die enigste waarborg vir ’n salige einde.

Maar dit is geen verrassing nie. Ons weet dit mos van die begin af.

Hou my styf vas in hierdie nuwe jaar, Here! Ek weet uit ondervinding om nie op mense te vertrou nie, en beslis nie op my eie goeie voornemens nie.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: