’n Swaar werk

Lees Esegiël 3:12-21.

Die mag van die Here het my op ’n harde manier in besit geneem (v 14).

Profete het dit nie maklik nie. Nie deesdae nie en vir seker nie destyds nie. Hoor hoe kla Esegiël: “Die Gees het my opgetel en my weggevat, en ek is daar weg, swaarmoedig en ontsteld” (v 14).

Dit was maar die begin van sy moeilikheid. Hierna sou hy onder meer verslag doen oor hoe hy gesit het by die ballinge na wie toe hy gestuur is “sewe dae lank verskrik daar tussen hulle” (v 15). En hoe die Here, sy Opdraggewer, hom streng beveel het wat om te sê, en hoe, en aan wie.

En as hy hom nie nougeset aan dié voorskrifte hou nie? Wel, dan sal hy self duur betaal vir sy versuim. Ja-nee, die Here neem op ’n harde manier van sy profeet besit …

Dit is sekerlik te begrype, die Here se streng eise aan sy profete. Om ’n profeet te wees vra integriteit, betroubaarheid, geloofwaardigheid. Die versoeking bestaan tog altoos om jou eie weergawe van die Here se boodskap te verkondig. Om die opdragwoorde só te plooi dat dit jou goed laat lyk, sodat jy die held in die harde verhaal is.

En, skrikwekkend genoeg, sodat jy bepaalde wandade se gevolge, wat aan jou uitgestippel is, verswyg. Jy wil jou nou nie by voorbaat ongewild maak nie. Jy wil nie gesien en vermy word as die draer van slegte nuus nie. Ook maar mens, die profeet …

Nee, profete het dit nie maklik nie. Hulle het nie die luukse van valsheid of voorgee nie. Hulle het wel die onberekenbare groot voorreg om deur die Here self ingelig te word. Om eerste en eerstehands te hoor: Só sê die Here.

As U kans sien om my te vertrou, Here: Hier is ek. As U my wil gebruik.

Barend Vos