’n Veelseggende verhaal

Lees Markus 6:21-29.

“Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee” (v 23).

Drank, waarskynlik. ’n Groot mond voor die partytjiegaste, beslis. Die dans van die sewe sluiers, h’m …

Hoe ook al: Koning Herodes verjaar en hou partytjie, hy verloor kop en belowe sy stiefdogter, daar voor al die uitbundige gaste, dat sy kan kry net wat sy wil hê. Enigiets, énige iets! Praat net: “… tot selfs die helfte van my koninkryk.” Maar dans net vir ons, vir my en my plesierige vriende.

Toe dans sy. En sy dans haar in die geskiedenisboeke in, die moderne letterkunde in, tot in die 20ste-eeuse opera-repertorium. Sy dans haar in die wellustige drome van haar stiefpa en dié se drinkebroers in.

Wat sal sy in ruil daarvoor vra? Haar ma weet. Dié onthou die gevangene en sy aanstootlike praatjies. “Die kop van Johannes die Doper” (v 24).

Dit is wat die dansende dogter gaan vra, en die koning het geen keuse nie, daar was baie getuies.

Só kom die Doper se lewe tot ’n einde. Sy volgelinge het sy liggaam gaan haal, dit begrawe. Uiteindelik was sy mond stil.

Wat sal ons, die latere lesers, hieroor sê? Drank verduur geen onreg nie? ’n Man se luste en ’n vrou se lis is ’n dodelike kombi­nasie? ’n Mens moet weet wanneer om jou mond te hou? Ja, wel …

Dalk ook dit: Die rolverdeling in die wêreld se storieboeke bevat straks heel ander name as God se boek van die lewe. “Beroemd” en “begenadig” is nie noodwendig sinonieme nie.

Here, hierdie veelseggende, bloederige storie ontstel my. Dit was so onnodig … Sê my wat U my hiermee wil leer.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: