’n Volgorde

Lees 1 Johannes 4:17-21.

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (v 19).

Dit is hopelik reeds in almal se gemoed uitgeklaar: God het ons lief en daarom het ons Hom lief. In hierdie grondreël is geen sprake daarvan dat ons God se liefde moet verwerf of verdien nie, geen ruimte vir meningsverskil of selfs ’n redenasie nie. God het ons lief, Hy het ons eerste liefgehad. Punt.

Kyk, laat ons Johannes nou eenmaal goed verstaan: God se liefde vir ons is ’n feit. Ons het dit so kom kry, ons kan goddank niks daaraan doen nie. Want as dit nie onveranderlik so was dat God ons eerste liefgehad het nie, sou ons met hierdie liefde gemors het. Ons doen dit inderdaad wanneer ons allerlei jakkalsdraaie daarmee gooi, sedige lysies opstel en vroom voorwaardes uitdink oor wie dié liefde kan kry en wie nie. Ons mag dit nie doen nie. Ons mag God se liefde bloot aanvaar. Dit het in ons skoot geval.

Die enigste moontlike reaksie hierop is om dankie te sê en om Hom lief te hê. End van die storie.

Of is dit maar die begin? Sekerlik so, as ons Johannes op sy woord neem wanneer hy reguit praat oor liefde-vir-mekaar en sê: Jy kan nie sê jy het God lief en jy haat jou broer nie. Dan lieg jy. Punt. Want God se gebod lui: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê. End van die storie.

Eintlik is dit bloot die begin, want liefde-vir-’n-medemens is ’n werkwoord. Niks minder nie as ’n bevel. ’n Uitputtende, uitmerge­lende, alleseisende opdrag van God. Maar dit is die enigste manier waarop ons van ons agterdog teenoor mekaar ontslae kan raak. En ons in vrede kan gaan slaap.

Here, u liefde vir my het ’n hele kettingreaksie tot gevolg. Ek loof U daarvoor!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: