Nalatenskap

Lees Psalm 89:19-38.

Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê, en my woord aan Dawid sal ek nie verbreek nie (v 36).

Dawid was ’n geliefde koning – daaroor bestaan geen twyfel nie. Tydens sy bewindsjare in Israel het sy mense hom vereer. Hulle was dankbaar om hom te hê, hul begaafde koning wat opsigtelik die Here se guns geniet het.

Ná sy dood is die herinnerings aan hom tot iets buitengewoons verhef, en die Dawid-heerskappy het ikoniese status verkry. Dié amperse aanbidding van sy nalatenskap het tot in Christus se tyd weerklank gevind. Jesus is immers meermale geloof as “die Seun van Dawid” (Matt 1:1; 21:9).

Die psalmdigter is vol lof vir die Here, en aanvanklik loof hy Hom vir sy heerskappy oor die skepping. In die middel van sy lied word sy lof heel plaaslik, en die Here word sommer self aan die woord gestel. Dit word nou Hý wat vertel oor hoe Hy nog altyd vir Dawid gesorg het, hoe Hy dit steeds doen, en hoe dit vir altyd so sal wees. “Vir altyd handhaaf Ek my trou teenoor hom; my verbond met Hom staan vas” (v 29).

Dit hoef gelowiges wat deur die eeue heen hierdie geskiedenis lees, dus nie te verbaas dat Dawid se erfenis vir Israel, tot vandag toe, buitengewoon kosbaar is nie.

Dit is wel vir meer as Israel spesiaal. Ook ons weet dat wan­neer die Here Hom aan sy kinders verbind, aan mense soos ons, koningskinders, niemand daardie band kan breek nie. Nie ander se jaloesie of sinisme of doodgewone skurkagtigheid nie. Beslis nie die Bose se lis nie. Nie eens sy stout, dwalende, vernielsugtige, ondankbare kinders nie.

U het U ook aan my verbind, ten spyte van myself. Hou my styf vas, Here!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: