Net een keer

Lees Hebreërs 9:24-28.

Maar nou het Hy net een keer … verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem (v 26).

Die Hebreërskrywer keer gereeld na hierdie waarheid terug: Chris­tus het een keer gely, Hy het Homself een maal geoffer. Dit alles was eens en vir altyd.

Natuurlik probeer die skrywer die teenstelling skets tussen wat Christus as ewige Hoëpriester gedoen het en wat die Jode, die Hebreërs, se hoëpriesters doen. Een maal teenoor herhaaldelik. Eens en vir altyd versus keer op keer.

Hy kan sekerlik ook sug: Hoeveel keer moet ek dit nóg sê en op hoeveel verskillende maniere, voordat mense wat so in hul ou gebruike vasgevang is dit verstaan? Wanneer sal die Jesusvolge­linge eendag van die ou denkpatrone afsien?

Dit was twee duisend jaar gelede; hy skryf vir die eerste-eeuse Christene. Sedertdien het baie gelowiges se opvattings en begrip klaarblyklik bloedweinig verander. Steeds heers daar by sommige die grootste moontlike onsekerheid oor wat Christus alles vir hulle gedoen het. Was dit genoeg? vra hulle. Dit kan tog nie eens en vir altyd wees nie! sug hulle. Daar móét iets wees wat ek ook moet doen! Wys my watter offer ek moet bring! roep hulle uit.

Hoe jammer is dit nie. Hoe tragies dat mense wat met die grootste moontlike vreugde behoort te lewe, soveel onsekerheid beleef. Dat hulle só oor ’n uitgemaakte saak wroeg. Kan hulle nie lees nie? Glo hulle nie die Hebreërskrywer nie?

Wat is dit wat hulle verwar? Wie het hulle bang gepraat? Hoe sal God se oordeel lyk oor mense wat hul eie reëls vir sy koninkryk opgestel en ander mense daarmee verpes het?

U het my sondeskuld weggeneem. U het met u lewe betaal. Ek glo U, Here!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: