Net U, Here …

Lees Psalm 145:14-21.

Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is (v 14).

Ag, Here, daar kom ’n dag dat slimmigheid ophou
en ingeligtheid sy einde bereik. Dat moeë oë stom
opkyk na die berge wat op hulle wil val; die heuwels,
asof dié hulle reeds bedek. Wie sal hulle daar uithaal?

Wie sal hulle weer optel?
Wáár, vra hulle, waar sal
ons hulp vandaan kom?

Tam oë het nie meer genoeg lig om te hoop nie, Here.
En leë hande is nie altyd ’n teken van afhanklikheid nie.
U sal weet hoe flenters is dié wat ver geval het en hoe
dom is hulle wie se antwoorde eensklaps uitgevee word.

Wie sal by hulle buk?
Wié, vra hulle, wie sal
ons weer kom troos?

Almal is nie getrou genoeg om U aan te roep nie, Here.
En daar is dié wat nou begin agterkom dat stommiteite
soos hierdie uiteindelik boemerang. Nou moet hulle,
kniediep, ’n woordeskat begin soek om u aandag te trek.

Wie sal hulle dit leer?
Hóé, vra hulle, hoe kan
ons dié taal nou baasraak?

Daar is mense, Here, goeie mense, wat nie met hul hele
hart kan sê hulle het U lief nie. Vrees en ontsag en selfs
respek is nie almal se idee van liefde nie. Nou wonder hulle
of u beskerming hulle uitsluit? Of afhanklikheid niks is nie.

Wie sal hulle vertel?
Hóé, vra hulle, hoe
is u eise dan so hoog?

Net U, Here, kan ver genoeg sien en laag genoeg buk
en sag genoeg praat en deeglik genoeg verduidelik
sodat selfs ék gerus in God kan glo.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: