Nie uit verdienste nie

Lees Psalm 79:8-13.

Help ons, o God, ons Redder, ter wille van die eer van u Naam, red ons, vergewe ons ons sondes tot die eer van u Naam (v 9).

Here, wanneer u kinders begin swaar dra
aan die skuld van destydse hovaardigheid;
wanneer dit sonder ophou voor hul kop
gegooi word en daar aanhoudend en by
elke geleentheid verskonings van hulle geëis
word – ontferm U tog oor hulle, asseblief!

Nee, nie uit verdienste nie, want hulle het geweet
wat hulle doen; hulle het indertyd willens en wetens
die skroewe selfs stywer aangedraai en die strop
om die ander se keel al hoe nouer en nouer getrek.

Nou is hul asem uit hul eie lyf uit.
Daar is bloot ’n desperate gehyg na u hulp:
Die sug van mense wat nie her- of
derwaarts weet nie. Wat verleë stilbly,
sonder antwoord vir die spotters
wanneer dié uitgelate jil: “Haai, daar!
Wat het dan van julle God geword?”

Sien, Here, hulle spot eintlik met U!
Hulle dink niks van u kinders nie –
en daarom selfs minder van U.
Vir ons kan hulle ten minste sien
wanneer hulle diékant toe spoeg …

Ag, Here, ons is dit nie werd dat U nog ’n keer na ons kyk nie.
Ons kan nie van U eis dat U ons weer sal red uit die gevolge
van die onreg wat ons gepleeg het nie. Maar U sien hoe verstik
ons in die gemors. Ons vergaan onder die smaad. Sonder hoop.

Nou kom staan ons voor U, smeek, soebat:
Red ons –
dan nie uit verdienste nie,
dan vanweë u genadige geskiedenis met ons.

Want ons is die skape wat U nog altyd so goed laat wei het.
En U het hierdie kraal, dié stuk veld, tog ook vir óns gegee …
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: