Lees Handelinge 15:36-41.
Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het (v 39).
’n Mens kan dit byna nie glo nie: Paulus en Barnabas, daardie twee ou kamerade, se weë skei. Nee, nie vanweë interpretasieverskille oor die evangelie nie, en nie omdat hulle nie oor ’n roete vir hul tweede sendingreis kon ooreenkom nie. Hulle los mekaar oor Johannes Markus. Hy, van almal …
Hy was saam op die eerste sendingreis, dié jong man. Maar toe sake te warm word, vat hy die pad huis toe (Hand 13:13). Paulus en Barnabas moes alleen verder opsnork.
Nou, op die vooraand van ’n tweede reis, dring Barnabas daarop aan om hom nog ’n kans te gee. Paulus steek viervoet vas: Hy is klaar met die man wat hulle destyds so liederlik in die steek gelaat het. Barnabas, onbuigbaar, neem Johannes toe saam met hom. En Paulus kies Silas as sy nuwe reisgenoot.
Ai, tog. Sulke halsstarrigheid, sulke hardkoppigheid …
Jy kan dit byna nie kleinkry nie: Hulle twee kom toe reeds ’n lang pad saam, van daardie keer toe Barnabas die verskrikte, pasbekeerde Paulus onder sy vlerke geneem het (Hand 9:27). Boonop was Barnabas die een wat hom later in Tarsus sou gaan soek en na Antiochië bring (Hand 11:25-26). Saam is hulle deur dié gemeente uitgestuur, en saam het hulle die destydse provinsie Asië deurreis, die evangelie verkondig, gemeentes gestig.
En nou dit. Barnabas, met ’n geskiedenis van ander mense die voordeel van die twyfel gee. En Paulus, die een wat destyds voordeel daaruit getrek het. Paulus, wat beter moes weet as om mense wat foute maak af te skryf …
Here, ek is die ontvanger van tweede, derde, hoeveelste kanse. Leer my vergewe. Leer my geduld hê. Leer my om te maak soos U met my maak.
Barend Vos