Nooit genoeg nie

Lees Psalm 106:16-39.

Die volk het hulle verontreinig deur hulle optrede en het troubreuk gepleeg deur hulle dade (v 39).

Van oudsher, Here, het dit geblyk dat God se kinders
nie wonderlike voorbeelde vir húl kinders is nie.
Nie die toonbeeld van onderlinge liefde,
samewerking en godsvrug nie. Inteendeel.
Hulle beveg die ander, haat mekaar en mekaar
se sukses, is jaloers op die res se voorspoed.

Ons hap en byt, en kla en verwyt mekaar
oor die geringste misstap. Ons stel standaarde
aan ander wat ons self nie kan handhaaf nie.
Ons onvergenoegdheid verklap
meer oor óns as oor enigiemand anders.
Ons liggeraaktheid weerhou ons daarvan
om ’n houvas op ons lewe te kry.
Ons reken om te wen – en verraai daarmee
onsself. Ons is die naam “kind van God”
nie werd nie. Ons besoedel Hom wat ons dra.

Soos die woestyntrekkers van ouds ploeter ons steeds
voort, sien lugspieëlings vir die waarheid aan, misgun
mekaar die reeds skrapse skaduplekkies, verdra dit nie
dat die son op die ander skyn nie … tensy dit skroei.

Só verset ons ons teen U, o Here.
U genade is nooit vir ons genoeg nie;
u gunste vir ’n ander, gans te veel.
Ons verseg om te gaan waar U gaan;
ons glo nie wat U sê nie.
Ons verstaan U doelbewus verkeerd.
Ons hoor nie meer u waarskuwings nie;
ons steur ons ál minder aan u gesag.
Ons maak ons aan gruwelike dinge skuldig;
ons het lankal vergeet aan wie ons behoort.
Ons kla oor ander wat ons menswees besoedel.

Maar ons het ons eie grootste, vuilspeel-vyand geword;
onteerders van u Naam.
Mislike morsjorse.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: