Nuwe moontlikhede

Lees Psalm 126.

Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ’n droom. Ons het gelag en gesing … Verander tog ook nou ons lot, Here (v 1-4).

Hoop is die mens se vernaamste kos. Jy weet lankal jy kan nie net van brood lewe nie; jy raap elke krummeltjie hoop op wat uit God se mond kom (Deut 8:3). En wie het gesê waar daar hoop is, is daar lewe?

Ware hoop groei nie in ’n lugleegte nie; sy wortels is deeglik in die geskiedenis geanker. Daarom is hierdie psalmdigter se hoop­volle uitroep dat die Here tog nuwe moontlikhede vir sy mense sal skep, gegrond op dit wat Hy, hul Hoopgewer, reeds in die verlede vir hulle gedoen het. U hét dit mos destyds gedoen, sê hulle, U moet tog nou weer so maak.

Die Here sál. Dit is die digter se vaste oortuiging. Daarom ver­oorloof hy hom solank ’n droom – water in die dorsland, trane wat ’n jubeling word, ’n skitterende oes.

Ja, hoop voed ook jou drome. Dit gee kleur aan die vrolike prentjies in jou geestesoog, dit vuur die dimensies daarvan aan. Want wanneer jy só droom, is dit veel meer as daardie geykte ou dagdroompies waarmee jy eintlik maar jou kosbare tyd vermors.

Drome wat uit ware hoop ontspring, het nie brieke nie. Dit word nie deur ander se goedbedoelde vermanings soos “gebruik jou gesonde verstand” en “wees realisties” aan bande gelê nie. Hoop­volle mense droom groot, want hul God is groot.

Sing ook maar daaroor. Hy sal altyd die God van nuwe moont­likhede wees. Hy wat beveel en dit geskied, Hý is die Here van ons lied.

Ons sal sing en dans en by voorbaat jubel: Dankie, dankie, dankie, Here!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: