O handelende God

Lees Psalm 90:13-17.

Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees (v 14).

Here, ons het ’n dringende behoefte aan u ontferming –
veral soggens, as die dag lank en vaal en sonder
sigbare erbarming voor ons uitstrek. Ons wil daarvan oortuig
wees dat U ongetwyfeld ’n belangrike deel van elke dag
se bestaan sal wees – midde-in besluite, onverwagte meevallers,
onaangename verrassings, die onvermydelike bekommernisse.

O, as dit elke oggend só kan wees, Here,
dag ná dag.
Dan kring dit uit – weke, maande,
jare lank.
’n Leeftyd vol van God se goedheid.

En as dit vroeg begin, gee dit my boonop
die geleentheid om te leer sing. Om daagliks
gedissiplineerd nuwe lofliedere aan te leer.
Om, wie weet, ook aan die einde van hierdie
maand ’n handvol hallelujas te kon bemeester.

Dan sal, onvermydelik, my kinders dit ook hoor.
Hulle sal dus grootword met ’n lied in hul ore;
hulle sal die lof aan U met moedersmelk inkry.

En dit sal die belangrikste deel van hul erfporsie wees,
Here; hulle sal nooit twyfel aan wat U vir u kinders
weggelê het nie. Hulle, die gekoesterdes, sal altyd weet
dat hul Vader se sagte hande vir niks verkeerd staan nie.

Én dat U deur die jare heen geduldig
aan elke vader en moeder daardie kuns leer –
’n handvaardigheid
wat tot u eer aangewend word;
’n aangeleerde vermoë om saggies te vat,
deernisvol te beduie, stewig te lei.

Bevestig dit tog, Here,
juis dít,
o handelende God.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: