Om die dag te gryp

Lees Psalm 90:11-12.

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (v 12).

Here, in die ewigheidswoestyn is mý lewe ’n korreltjie niks.
Ek is ’n stukkie stof in die sensus van u skepping.
Van soggens tot saans werskaf ek tot rugbreek –
en die volgende môre verspoel my klein akkertjie.
Ek dolwe waarhede om, skryf ’n biblioteek vol –
en op ’n dag verlê ek sleutels, vergeet ek my naam.
Ek maak verbete bymekaar, versamel ’n fortuin –
en dan klop mot en roes aan my deur;
die diewe klim sommer deur die venster.

Hoe kan ek, Here, die tyd laat stilstaan?
Hoe draai ek die horlosie terug?
Hoe bedink ek my voorkeure nuut? Hoe begin ek voor?
Hoe bekom ek ’n wyse hart? Hoe stel ek die dood uit?

Want as ek dinge reg verstaan, Here,
kom die lewe nie nóg ’n keer verby nie.
Gedane sake het geen keer nie
en versuim tel vir altyd teen jou.
Ons dra die letsels van ons dom keuses graf toe;
ons luiheid laat ’n “onvoltooi!” op ons lewensrapport.

Het U dalk raad?
Nuus oor ’n tweede kans? Hoop op ’n herbesoek?
Wil U my wys hoe om dié bus te stop dat ek kan opklim?
Sal U kan verklap hoe ek die tyd ’n bietjie kan terughou?

Hoor ek U reg?
Dan sal ek maar diep asemhaal en op my tande byt.
Ek sal opstaan en gaan haal wat U gevra het:
My nuwe voornemens, Here – my jaarprogram;
die verf, die kwas.

Kyk dan nou hoe gryp ek die dag!
Hiérdie dag, so in die middel van die jaar,
maar DAG EEN van die res van my lewe.
En kýk hoe verf ek hom rooi –
die beste kleur vir ’n wyse hart.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: