Om te kan rustig raak …

Lees weer Psalm 4.

Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon (v 9).

Ag, Here, ek het die manier om opgewen te raak
as dinge nie na my sin verloop nie. Ek breek my kop
oor sake waaroor ek weinig beheer het en kloof hare
oor die moontlike redes vir elke bietjie teenstand wat
ek ondervind. En die ergste: Ek vergeet dat U áltyd sorg.

Ek verloor gou uit die oog dat U
die uitdeler van brood en wyn is;
leweransier vir my lewe;
verskaffer van vreugde;
gewer van elke goeie gawe.

En ek vergeet gou dat ek deur die jare heen
geen gebrek geken het nie.
Dat ek uit my oorvloed kon deel;
selfs in skraal tye genoeg kon afknyp
om ’n verskil te maak.
Dat ek wonderwerke sien gebeur het;
dat ek u ingrype beleef het
en u hand in alles kon herken.

Leer my dan nou om te kan rustig raak.
Om my nie so te kwel
oor dinge waaraan ek niks kan doen nie.
Om my nie te verknies
oor mense en wat hulle kwytraak nie.
Hulle het immers lankal vergeet
wat hulle my aangedoen het
en dan loop ék steeds met die seer in my hart.

Hoor tog nou my gebed, Here!
Plaas u hand om my skouers.
Help my van my knieë af op;
sit my suutjies in die bed
en sing asseblief vir my daardie liedjie
wat altyd help. Wat alles sê
wat ek nou hoef te hoor:
“Slaap, my kindjie, slaap sag …”
Amen.

Barend Vos