Lees Psalm 99.
Prys die Here ons God, buig voor Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig (v 9).
Here, hoe wens ek vandag dat ek U beter kon ken …
Dat ek ’n lid van u ou volk kon wees.
Dat ek ook woorde soos “gerubs” en “Sion”
sonder skroom kon gebruik,
en die familienaam “Jakob”
sonder verskoning vir my kon toe-eien.
Dat ek nie op ’n kaart of in ’n ensiklopedie
hoef te soek presies waar u “heilige berg” is nie.
Dat ek U soos Moses en Aäron kon aanroep,
in die wete dat U my sou antwoord.
Dat U vir my ook sigbaar soos ’n wolk
in die dag en ’n vuur in die nag sou wees.
So duidelik kenbaar in die vaste voorskrifte
en helder opdragte wat ek van U ontvang.
O, dat ek soos Samuel tuis kon wees in u tempel!
Dat ek U kon hoor as U my in die nanag op die naam
roep om vertroulikhede met my te deel. Dat U
met my ook so vol begrip oor verwerping sou praat
soos met hom, die eensame priester – daardie keer
toe die volk opsluit ’n koning wou hê, ongeag die koste.
Dan belowe ek U dat ek U nie sal teleurstel deur
voor goue kalwers te dans om my bas te red nie.
Of om my naam weg te gooi en lewensdrome te verydel
deur te slaan nadat U my aangesê het om bloot te praat nie.
En ek sal nie, soos die ou priester, mý kinders
sienderoë allerlei goddelooshede toelaat nie.
Alles, álles, om U tog net beter te ken.
Om U mooier te sien.
Om U duideliker te hoor.
Dat ek U met groter opregtheid kan liefhê.
Amen.
Barend Vos