Om u Naam te ken

Lees Psalm 91:14-16.

“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm” (v 14).

Here, ek begryp weinig, nee, heeltemal niks
van u motiewe nie. Mense vra U “hoekom?”
en “waarom?” en ek weet nie of hulle ’n antwoord kry nie.
Of daardie welmenende, alte menslike trooswoord:
“Toemaar, ééndag sal jy weet …” enigeen bevredig nie.
En of die “berus nou, verstaan later”-mantra so geloofwaardig
is soos wat daardie praterige allervroomstes hulle verbeel nie.

Ék wou nog laas by U weet hoekom U my so voortrek
en so buitengewoon begunstig, so onverdiend – onthou?
My “hoekom” en “waarom” klink dus verkeerdom;
ek kla nie. Ek spog ook nie; ek is bloot bang
U onttrek hierdie verbysterende bevoorregting.

Dié soort seën kan tog nie die gevolg van my toewyding
wees nie. Of vanweë my nougesette navolging
van u spoor nie. Daarvoor ken ek myself te goed.

U ken my nóg beter.
U sal weet dat ek nog nooit van iemand ’n eerste
prys vir volhardende getrouheid ontvang het nie.
Nee, daar moet in godsnaam ’n ander rede wees!

En ek wonder al meer of dit nie juis dáárin geleë is nie:
in God se Naam.
Omdat ek nog altyd u Naam geken het.
Deurdat dit aan moedersknie vir my geleer
en so dikwels in ’n pa se gebede genoem is.
Omdat ek met u Naam grootgeword het
en in daardie Naam al my reise begin het.
Omdat ek van kindsbeen af geweet het
hoe om na U te roep.
Hoe u Naam my lewe red.
Hoe dit my leë plekke vul.

Ja, dalk moet ek nou ophou vra, en dankbaar begin aanvaar
dat mý “hoekom” en “waarom” ’n reguit vierletter-antwoord het:
H-E-R-E.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: