Om uit te deel

Lees Handelinge 4:32-35.

Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal (v 33).

Gelowiges kyk soms verleë weg wanneer hulle by dié klompie verse kom. Kyk, ons lees mos graag oor die eerste gemeente en hoe voorspoedig hulle was en hoe God se genade groot oor hulle was en hoe lief hulle mekaar gehad het, en dan is daar altyd dié versugting: Hoekom kan óns nie ook wees soos hulle was nie!

Verder bly ons maar stil, want ons wil nie regtig soos hulle wees nie. Ná die bewondering en die lofbetuigings en die versugtinge … kyk ons weg.

Dit is oor daardie uitdelery. Ons wil soos hulle wees, ja, en alles soos hulle beleef, ja, maar daar is darem perke. Ingeligte Bybel­lesers sal selfs smalend wys op die spoedige geldnood in die Jeru­salemse gemeente. Dit is die roekelose uitdelery! sal hulle sê. Dit is hoekom verskeie ander gemeentes kollektes ten behoewe van Jerusalem opgeneem het (Rom 15:25-26; 1 Kor 16:3; 2 Kor 8:4; Hand 11:29). Dit het hulle nou daarvan!

Maar in dié verhaal, so tussen die berigte oor die onderlinge mededeelsaamheid deur, word daar ook hierdie stukkie kristal­helder getuienis in dié gemeente gelewer: Die Here het opgestaan!

Slimjanne en sinici moet dus nie so flink in hul oordeel wees nie. Die gemeente se uitdeel van die liefdegawes was bloot die vrug van hul opstandingsgetuienis. Dit was asof dankbare gemeentelede hieruit die krag gekry het om teen nood en armoede in opstand te kom. Om te doen wat hulle bely.

As ander gemeentes ook ’n bydrae vir die behoeftiges wil stuur? Asseblief, ja! En dankie by voorbaat.

Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: