Onrein

Lees Markus 7:21-23.

“Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein” (v 23).

Die destydse godsdienstiges en veral hul leiers het ’n obsessie met reinheid gehad. Dit het sy ontstaan juis in hul godsdiens gehad, waar daar buitengewone klem gelê is op hande was, en wat toe oorgevloei het na die was van eetgerei en selfs die stoele waarop hulle gesit het wanneer hulle eet.

Dit alles kan waarskynlik teruggevoer word na Ou Israel se woestyntrek en die streng reëls wat daar gegeld het om die trekkers teen allerhande siektes te beskerm. Maar wat goeie, gesonde besker­mingsmaatreëls was, het deur die eeue in ’n kultus ontaard, ’n soort nuwe godsdiens, ver van die oorspronklike bedoeling daarvan.

Dit is hierteen wat Jesus reageer, en soos altyd lê Hy sy hand sekuur op die seerplek. Op die bron van alle onreinheid. Dit kom van binne af, sê Hy, uit jou hart. Dit is tog interessant, en nie onverwags nie, dat Jesus dit uitdruklik “slegte gedagtes” (v 21) noem. En ons almal weet waarheen slegte gedagtes lei.

Geen wonder nie dat ons ou kerkvaders die hart ’n afgodsfa­briek genoem het. Dit was ’n voltreffer, en is dit vandag steeds. Dit trek ’n streep deur al die verontskuldigings wat gewoonlik op invloede van buite en omstandighede buite my beheer gegrond is. Of die skuld wat kortweg sommer op júlle en húlle gepak word.

Ek was my hande in onskuld, sal ons ewe vroom sê, en swyg oor die hart wat ons nie wil was nie. Omdat dit te seer is, te ontblotend. Omdat dit baie moeite verg, groot opoffering, om jou gedagtes in ’n ander rigting te stuur.

Dit is in elk geval heeltemal te veel gevra van iemand wat altyd reg is, en silwerskoon en doodonskuldig.

Was U my, Here, maak U my rein!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: