Ons eie maaksel

Lees Psalm 78:56-64.

Toe God dit sien, het Hy kwaad geword en Israel verwerp (v 59).

Dit pas ons uitstekend om U
as ’n vriendelike, vrolike God
te aanbid, verkondig, vereer …
en te ignoreer.

U maak mos bloot saak as ons in die nood is;
U word slegs op óns voorwaardes benodig.
U weet mos niks van ons dwalings nie …
U hoor mos nie ’n woord van ons gejil
as ons U teen ons blinknuwe plastiekgode
afspeel, opweeg en lag-lag te lig bevind nie.

Ons reken dat ons U aan die lyntjie van ons begeertes kan hou.
Met U kan speel, self die dun toutjies trek, sodat U na ons pype
moet dans. Dit is vir ons gerieflik om dit uit die oog te verloor
dat U ’n lewende werklikheid is – naby, teenaan ons.
Ja, wanneer ons eendag die skade van dié onsinnige
optrede bereken, sal die skande daarvan ons lankal
ingehaal het. Wanneer ons uiteindelik besef dat wat
eens vir ons tot troos was, nou ’n bedreiging
geword het. Wanneer U só kwaad is dat ons
dit aan eie lyf sal voel, en dit heeltemal te laat sal wees.

Here, U sorg vir die kosmos én vir u kinders.
En die skepping gehoorsaam U.
Dit is net u skepsels …

Ons is U en u troue sorg nie werd nie.
Ons verdien u woede.
Elke ellende waaraan ons oorgegee word,
is ons eie maaksel.

Maar mag ek asseblief iets byvoeg, Here?
Sal U my hoor?
Dan wil ek net sê: Ons ken U nie so nie.
Ons vergaan onder u toorn;
die hand wat ons altyd vasgehou het,
druk nou bitter swaar op ons.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: