Ons lig

Lees Psalm 4.

Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na hom roep (v 4).

Here, ons kom al ’n lang pad, ek en U.
Ek was al sóveel keer in die moeilikheid
en dan het U my uitgehelp;
soveel keer vasgevang,
en dan het U my losgemaak, vrygelaat.
Vir my ruimte gemaak.

Daarom, Here, bid ek nou weer, smeek ek:
Hóór my, asseblief!

U weet dat daar mense is wat nie van my hou nie.
Dit wat hulle oor my sê en beplan,
is net op een ding gerig:
Om my leed aan te doen.
O Here, laat hulle tog besef dat hulle met vuur speel
wanneer hulle een van u getroue volgelinge se eer skend.
Laat hulle tog weet dat U na my luister wanneer ek roep.

Ek roep na U, Here! Hoor my!

Elke dag beleef ek u goedheid.
U is teenaan my, en hierdie intieme teenwoordigheid
skyn helder oor my.
U sorg vir die brood en die wyn, die oorvloed op my tafel.
U sorg vir die oorvloed in my hart, die vreugde.
U gee die vrede wat maak dat ek kan gaan lê
en gou aan die slaap raak
omdat U die Een is wat my bewaar.

Dan is daar ook dié wat nog meer sukkel as ek.
Hulle ken U nie regtig nie. Hulle sien U nie.
Hulle onthou U vaagweg as die God van gister.
Hulle sê: Déstyds was God goed …
maar waar is Hy nou?

U is hiér, Here, ek weet,
U is hier in die lig.
U is ons lig.
Amen.

Barend Vos