Ons lof aan U

Lees Psalm 148:11-14.

Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel (v 13).

Halleluja, Here! sê die mense –
en lig hul hande hoog en roep uitbundig: God is goed!
Eindeloos is sy liefde! Prys sy Naam! Here van die leërskare!
En dan getuig hulle met blink oë en blosende wange van alles
wat U doen en gee. Én beplan om te doen en te gee. Halleluja!

Halleluja, Here, sê die mense –
maar dit is moeilik om húlle te hoor. Nee, hulle is glo bly
en blykbaar dankbaar, maar die dunnerige stem huiwer
altyd tussen angs en sekerheid. Hul hande bly op die skoot
geklem en hul pryslied is sonder uitroeptekens. Hulle maak
daarop staat – en is dikwels daarvoor bang – dat U hul hart
met al sy vrae en verwyte ken. Hulle probeer hard om te glo
dat U hulle eendag sál antwoord. Intussen is hul godsdiens
gedemp. Die skraal lof wat soms uitglip bloot flentertjies hoop.

Om al hierdie redes, Here, ontstel dit my
dat daar steeds dié is wat nie wil weet
dat lof nooit eenstemmig kán wees nie.
Dat toonaarde van mekaar verskil.
Dat een halleluja altyd meer bloed-en-trane as ’n ander bevat.
Dat “jubel en juig!”
en “stilwees en vertroue …”
pasmaats is.

Ag, Here, en as dié onbegrip mý ontstel
– die geestelike hovaardigheid; die onverbiddelike neersien –
wat doen dit nie aan U nie?
Of glimlag U bloot en sê: Kinders …

Mag ek vra dat U ons help met ons lof aan U?
Almal wat hulle tog só vererg vir ’n woelige ritme.
Én hulle wat die kop skud oor ander
se dooilike voorliefde vir gedraenheid.

Ons lof aan U is altyd gebrekkig, Here.
Dirigeer U tog die stemmige koor …
En neem asseblief u plek by die tromme in!
Amen.

Barend Vos