Ons sing en speel vir U

Lees Psalm 105:1-7.

Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade (v 2).

Loof die Here –
almal, ja, álmal!
Julle het tog gesien wat Hy doen
én met hoeveel gesag.
Julle ken immers sy Naam;
julle weet van sy magtige dade.

En, nee, julle hoef nie met jul hande te klap
of met die arms te wuif of met allerlei krete
jul lof te toon nie; daar is ’n mooier alternatief –
musiek bied beter, kreatiewer moontlikhede.

So, skryf ’n splinternuwe lied!
Bring ander woorde – as julle genoeg daarvan het –
en maak ’n wysie uit die hart.

Of soek bloot ’n klompie ou bekendes uit
en sing hulle met nuwe ywer en oorgawe.
Ja, sing vir Hom!

En speel vir Hom!
Julle wat die snare kan laat sing – gryp
jul instrumente, stem dit in en loof Hom
vir die gawes wat Hy aan julle uitgedeel het.

Ag, wat kan ons nóg doen om U te loof?
Ons kan U tog nie betaal nie, Here.
Ons kan nie eens begin bereken wat ons U skuld nie;
ons is te dom en ons somme te swak.

Ons kan wel daaroor begin praat. Oor hoe dit gebeur het
dat ons so bevoorreg is, so buitengewoon geseënd.

Maar sê nou daar is meer van óns in dié getuienis as van U?

Nee, ons sal liefs net sing, Here.
En hulle wat kán, sal speel.
Hoor dan nou ons hallelujas aan!
Amen.

Barend Vos