Lees Eksodus 32:7-14.
“Dink aan wat U met ’n eed beloof het” (v 13).
Moses se heilige tyd op die berg waar hy God se gebooie ontvang het, word ru onderbreek: Daar is ’n aardige lawaai aan die voet van daardie berg, en die Here beveel Moses om ondertoe te gaan: “Jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen” (v 7).
Bybellesers weet reeds wat Moses hom nie in sy wildste drome kon voorstel nie: Sy mense, onder leiding van sy broer Aäron nogal, het ’n goue afgodsbeeld gemaak.
Nou moet hy na hulle toe terug. Hy moet hulle gaan vertel wat die Here aan hom gesê het: “Ek is toornig … Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak” (v 10).
Ten minste is die Here nie vir hóm, Moses, kwaad nie. Hoor dan daardie belofte! En dink net: Dan is hy ontslae van dié spul klaendes (Eks 16:2), die rusiemakers (Eks 17:2). Hy was mos van die begin af nie vir hulle lus nie … (Eks 4:13).
Nou bly daar een ding oor: Aanvaar die Here se gul aanbod, skud die woestynstof van jou af en gaan leef, soos Abraham, van sy beloftes.
Dit gebeur toe nie. Wat wel gebeur het, is eintlik te vreemd om oor te vertel: Hy, Moses, herinner die Here aan sy vorige beloftes, aan dié wat Hy vroeër aan die ou vaders gemaak het. Hy waag dit om die Almagtige teë te gaan.
Hy wys die Here se aanbod vir persoonlike seëninge van die hand. Hy kies sy mense – die immerontevredenes, die klaagsiekes, die ergerlike sondaars – se kant. Hy sê: Here, U, óns, kan hulle nie aan hulleself oorlaat nie! Merkwaardig …
Ag, Here, sal ék ooit leer om ander se belange bo my eie te stel?
Barend Vos