Onveranderlike Verlosser

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Heb 13:8).

Niks in die lewe bly vir altyd dieselfde nie. Alles is voortdurend aan die verander. Mense kom en gaan, geslagte gaan verby, die “goeie ou dae” kom nooit weer terug nie. Mense se gesindhede, persepsies en oortuigings word gevorm en omvorm met die aanstap van die tyd.

Dis deel van menswees. En dit is nie noodwendig verkeerd nie. Trouens, verandering is dikwels nodig, dikwels die beste wat met ’n mens kan gebeur. Verandering bring egter ook sy kwota onsekerheid mee. Ek wil byna sê ons is van die meeste dinge in ons lewe onseker.

Ons kan ons harte op aardse dinge sit – op pensioenuitbetalings, skeidingspakkette, erflatings, grond, huis, besittings – maar uiteindelik het niks hiervan ewigheidswaarde nie. Alles kan soos handomkeer verander.

Net God verander nooit! Hy is die Skepper van die hemelligte, maar self verander of verduister Hy nie soos hulle nie (Jak 1:17). Die hemelliggame, die heelal, verander of verduister dalk of word geskud, maar God bly! Veral weet ons dít: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8). Sy werk vir ons staan vas; sy beloftes is seker.

In Hom sal ons opstaan uit die graf. Die groot vernuwing en verandering sál plaasvind. Dis die heel beste wat met ons kan gebeur. En dit hoef ons hoegenaamd nie onseker te stem nie. Inteendeel.

Here Jesus, verander my met u onveranderlike liefde. Amen.

Johan Cilliers


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: