Onverbeterlik

Lees Psalm 104:31-35.

Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is (v 33).

Here, wat is daar vir my te doen
as U dan alles klaargemaak het?
Ek kan tog nie u handewerk verbeter nie.
Ek kán probeer bewerk en bewaar
en oor die algemeen gehoorsaam wees
aan die stukkie rentmeesterskap
wat U aan my toevertrou het.
Maar dít is ál bydrae tot u onverbeterlikheid.
Daar is niks by te voeg, niks aan te las nie.

Here, en wat kan ek sê
as U die laaste woord het?
Niks wat ek aan die gesprek toevoeg
sal hoegenaamd ’n verskil maak of ekstra waarde
daaraan verleen nie. Ek kan tog nie u wil verduidelik,
of u besluite regverdig of verdedig nie.

Ek kan dus aan niks beters dink
as om die mond wat U my gegee het
oop te maak en luidkeels u Naam te loof nie.
Ja, dit is wat ek sal doen: Ek sal juig oor U
wat ewige vreugde vind in wat U lankal
gedoen het én wat lag oor die dae wat kom.

O Here, laat my jubel oor u werke
tot die kranse antwoord gegee
en die vulkane finaal tot rus gekom het.
Tot die goddeloses tot God teruggekeer
en die sondaars hul opstand laat vaar het.

U Naam staan geskryf teen elke stuk handewerk
wat U met soveel liefde aangepak en voltooi het;
u handtekening is die waarborg van u eienaarskap.

Mag my klein lofprysing dan aan elkeen
wat dit hoor ’n brokkie begrip bied
van die Naam
wat ons dra.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: