Onverklaarbaar

Lees Jeremia 3:1-5.

Jy het geweier om jou te skaam. En nou noem jy My skielik: “My vader …” (v 3-4).

Die skrywer stel die Here aan die woord, die Een wat met trane in sy stem aan sy mense sê: “Jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie” (v 3).

Sterk woorde. ’n Hartgrondige verwyt. Hoekom doen julle dit, my volk? Hoe het dit dan gebeur dat julle jul liggaam aan die hoogste bieër verkoop? Kyk net wat het julle gedoen. Weet julle nie dat julle dit aan My gedoen het nie?

En dit hou eenvoudig nie op nie! Intussen hou julle julle vroom, maak julle of daar niks verkeerd is nie. Beroep julle julle op die ou dae, op my trou in die verlede. Vra julle, kamma-verbaas: “Sal U vir altyd kwaad wees …?” (v 5).

Ek verstaan dit nie …

Só kla die Here sy uitverkore kinders aan. Tot vandag toe is dit een van die lewe se onverklaarbaarhede: Godskinders se gebrek aan selfinsig. Wié? Ék? Só vra hulle. Wat het ék dan gedoen?

Terwyl die waarheid oop en bloot lê, vir almal om te sien. Vir almal, ja, behalwe vir hulleself. En dalk is dít die onverklaarbaarste van alles: die doodluiterse voortsetting van die ellendige gedrag. Te midde van allerlei suikersoet uitsprake en hoogheilige ontkennings, gaan hierdie bevoorregtes voort om te doen wat hulle wil. Op die grofste moontlike manier.

Ja, hierdie Jeremiaverse gebruik sterk taal, en boonop uit die Here se mond. Dit laat Bybellesers dalk bloos en krap sommiges selfs om. Maar dalk is dit nodiger as ooit. In ons selfbedrog sus ons onsself alte dikwels met kuise taal en sagte woordjies en poeierkwas-beeldspraak. Roep ons “halleluja” en “amen” en “prys die Heer” – en hoer onverpoos voort met ons geliefde afgode.

En U verdra ons … Hoe lank nog, Here?

Barend Vos