Lees weer Psalm 2.
Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig (v 11).
Here, ek bekommer my oor hierdie land.
Ek woon en werk hier,
soos my ouers en my kinders en my vriende.
En ek vrees die toekoms.
Ek sidder wanneer almal vra: “Waarheen is die wêreld op pad?”
En eintlik, weet ek, bedoel hulle: “Wat gaan van óns word?”
Ek skaam my om dit te erken, Here, maar ek deel hierdie angs;
ék, u kind, wat van beter behoort te weet.
Ek wat hulle moet reghelp.
Ek moet vir hulle sê U dryf die spot
met die nasies en die volke se planne.
Ek moet hulle vertel dat U die konings
van hierdie aarde uitlag. Dat U slinkse
regeerders en hul slimstories minag.
U is tog die Koning van die konings,
moet ek getuig; die Heerser oor die heersers.
Help my om dit te sê, Here!
Help my dan om te glo wat ek sê.
Kyk, ek dien U, Here. Geen twyfel hieroor nie.
Ek verwonder my oor u krag. Ek staan vol ontsag
voor U wat lag vir dié wat sogenaamd magtig is.
U wat die middelpunt van die wêreldgeskiedenis is.
Hoe U die gewoel en gewerskaf bekyk van hulle wat dink
dat alles om húlle draai … Hoe U vir hulle glimlag en soms
uitbars van die lag vir dié gewaande belangrikheid.
Ek skaar my by U.
Here, leer mý tog ook lag oor die dag wat kom!
Oor die jaar wat agter ons lê
en die een wat flink op pad is.
Ons lewe is in u hand.
Dit is ’n goeie plek om te wees; die beste.
Die enigste.
Amen.
Barend Vos