Oor steurende afhanklikhede

Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die glas, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos ‘n slang, spoeg hy gif soos ‘n kobra (Spreuke 23:31-32).

In sy nadenke oor wat die bose en negatiewe magte is wat ons kan verslaaf, gebruik die Katolieke geestelike, Ignatius van Loyola, ‘n interessante en verhelderende term.

Hy praat van verwarrende of steurende afhanklikhede (“disordered attachments”).

Hierdie afhanklikhede, aldus Ignatius, is verwant aan die verskeidenheid van hebbelikhede en liefdes wat van nature in ons leef. Hulle is onder andere liefde vir ons familie, volk, party, mag, sukses, geld, drank en plesier, waaronder natuurlik ook seks.

Hierdie liefdes, so voer Ignatius aan, is opsigself nie verkeerd nie, maar word problematies wanneer dit ons lewe só oorheers dat ons oorafhanklik daarvan raak. Selfs obsessief daaroor begin voel.

Dan word hulle steurende afhanklikhede – afwykings wat ons lewe verwar, vervlak en verslaaf sodat ons nie langer vry is om die ware lewe te geniet nie.

‘n Vraag wat ons kan help om dié dinge te ontdek wat ons steur en onvry maak, is eenvoudig die vraag: “Waarvoor is ek bang? Wat vréés ek vandag?”

Want wie uit vrees handel of dinge aangryp, is reeds onvry.

Here, besweer ons vrees. Openbaar vandag weer aan ons daardie afhanklikhede wat verslawend en ongesond is. Amen

Carel Anthonissen