Oorlewering

Lees Markus 7:1-8.

Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie?” (v 5).

Ons is so geleer! Dit is dikwels ons verweer wanneer iemand se wenkbroue oor ons optrede lig. My pa het so gemaak, sal ons sê. En sý pa en dié se pa. Nou doen ek dieselfde.

En as iemand iets van ons verwag wat vir ons vreemd is, of wat bloot anders is? Of as ons gekonfronteer word met ’n nuwigheid? Dan keer ons: Ons is nie so grootgemaak nie!

Tot vandag toe vaar gelowiges meestal goed met oorgelewerde gebruike. Ons kyk skeef op na diegene wat anders praat en optree as ons. Ons fluister agter ons hand of kritiseer openlik wanneer iemand die norm rek of buig, of as hulle dit selfs net oorweeg om buite die boks te begin dink.

Kyk nou maar vir Jesus en sy volgelinge: Hulle het die tradisio­naliste se aandag getrek omdat hulle nie hul hande gewas het voor­dat hulle eet nie. Julle is dan só geleer! het die ywerige handewassers gemor. Julle is tog so grootgemaak!

Hierop kap Jesus terug en wys hulle op ’n uitspraak van Jesaja, een van die mees gerekende óú mense, wat só lui: Julle maak asof die voorgeslagte God is. Julle besing die goeie ou dae se lof en vergeet om vandag goed te maak. Julle onthou haarfyn wat al die moets en moenies is, maar julle vergeet om lief te hê. Julle beywer julle vir silwerskoon hande, en gryp daarmee na die verlede.

In dié proses het julle God eenkant gelaat. Is dít regtig hoe die ou mense julle wou grootmaak?

Here, help ons om te begin dink oor al ons ou gewoontes. Om nuut te dink oor wat U regtig van ons vra.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: