Opdraand

Lees Markus 8:34-38.

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg” (v 34).

Nou is daar net een koers: Jesus se reis hier op aarde staan einde se kant toe. Die skares is weg en nou is dit net Hy en sy naaste volgelinge. Hy berei hulle voor op die dag wanneer alles op ’n heuwel buite Jerusalem gaan eindig. En op ’n definitiewe manier weer gaan begin.

Hier verklaar Hy aan hulle die geheim van dissipelskap: Om agter My aan te kom, sê Hy, beteken dat jy ophou om jou eie kop te volg. Dat jy ophou jammer wees vir jouself. Want dit is nie ’n maklike pad nie, en jy kan dit nie verder kompliseer deur onop­houdelik met jou eie veronderstellings en voorbehoude en spoke uit die verlede te stoei nie.

Jy moet die reis so lig moontlik aanpak en daarom so gou moont­lik van jou ego ontslae raak. En van jou dun vel, want die kruis wat jy noodwendig saamdra, sal sonder twyfel skuur en skaaf en ent-ent selfs die bloed laat loop.

Dit is die hele pad opdraand tot by Golgota.

Daarna gaan dit nie veel beter nie. Inteendeel. Christus se vol­gelinge het dit nooit maklik nie. Hulle is in ’n durende geveg met hulleself gewikkel, veral oor die aanloklike moontlikhede wat die breër paaie hulle bied. Hulle het probleme met kleinserigheid, met selfsug, met die behoefte aan erkenning en die sug na beloning.

Hulle raak nooit van die kruis ontslae wat hulle in Jesus se Naam dra nie. Hulle voel dit rem hulle af en hou hulle terug. Hulle sukkel lewenslank om te verstaan dat dit ’n ononderhandelbare kenmerk van dissipelskap is en ’n onmeetlik groot voorreg.

U ken alle lewenspaaie, al die hoogtes, dieptes, draaie. Kom en vat my hand!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: