‘n Vreemde teks

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het” (Exodus 20:2).

Dié week se teks is vreemd genoeg die tien gebooie.

‘n Mens wil amper vra: Hoe rym hierdie skynbaar ou wettiese geskrif met die Lydenstyd, met die storie van se Jesus lyding en dood aan ‘n ruwe kruishout?

Die sleutel lê daarin dat albei tekste na ‘n barmhartige God verwys wat mense wil bevry. Lees verder>>

‘n Verlies wat heilsaam is

Wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou (Markus 8:35).

Die opdrag van Jesus dat ware dissipels bereid moet wees om hulleself te verloën, hulle kruis op te neem en Jesus te volg, het my lank met ‘n bepaalde ongemak gelaat.

Die rede? Omdat ek daarin die einde van my eie, unieke identiteit vermoed het. Die einde van wat spontaan en natuurlik in my geleef het. En wat ek nou in ‘n daad van selfpyniging en grootskaalse opoffering moes aflê en prysgee.

Dit was eers later vir my duidelik dat die selfprysgawe waartoe Jesus ons roep, eerder die aftakeling en stroping van ‘n valse, onegte en oppervlakkige self behels. Dit is daardie self of ego wat sy lewe vir homself wil behou (Mark 8:35). Wat die hele wêreld as soeke na wins benader (Mark 8:36). Lees verder>>

Om jou te skaam vir die evangelie

“Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele …” (Markus 8:38).

Nóg ‘n manier om die kruisweg van Jesus te ontduik, is om jou te skaam vir dié Man en sy ongewone boodskap en pad.

Soos Petrus later by die vuur (Luk 22:54-62), kan dit ‘n verleentheid, selfs ‘n gevaar word om met Jesus en sy saak geassosieer te word. Veral wanneer dit blyk dat sy weg ‘n skynbare doodloopstraat is wat jou boonop jou reputasie, vriende en selfs jou lewe kan kos. Lees verder>>

Bang vir mense

“Want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (Markus 8:33).

Uit die verhaal van Jesus wat Petrus berispe (Mark 8:31-33), skemer enkele dinge deur wat ons – net soos met Petrus – kan verhinder om die lydende Jesus op sy kruisweg te volg.

Die eerste is dat ons bang is vir mense en dus toelaat dat hulle opinie en sienings, voorkeure en smake ons keuses beïnvloed.

Diep in ons almal – dit moet ons toegee – sit daar maar die sug na erkenning, die behoefte om raakgesien, aanvaar en selfs bewonder te word. En ons sal alles doen om dit nie te verloor nie. Trouens, as ons eerlik is, moet ons soms toegee: Ons vrees dit om nie in te wees nie, om nie aanvaar en gerespekteer te word nie. Lees verder>>

‘n Totale reoriëntasie

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën … (Markus 8:34).

Lydenstyd is ‘n tyd van dieper nadenke oor ons geloof.

Dit dwing ons as ‘t ware om die dieper motiewe en redes vir ons geloof nuut te ondersoek. Om eerlik te peil en vas te stel waarom presies ek myself ‘n Christen noem.

Want om Christus te volg, is normaalweg nie maklik nie – laat ons dit maar openlik sê. Selfs wanneer die weg sáám met Hom die belofte van nuwe hoop en groter vryheid inhou, verg dit ‘n bepaalde geloof, toewyding en dissipline. Lees verder>>

‘n Verdagte belydenis

Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!” (Markus 8:29).
Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe (Markus 8:33).

Een van die vreemde wendings in die verhaal van Markus 8:27-33, is dat Jesus, kort nádat Hy Petrus se herkenning en belydenis van Hom as die Christus entoesiasties begroet het, Petrus byna onmiddellik daarna kortvat en ernstig berispe (Mark 8:29-33).

Jesus suggereer selfs dat Petrus se poging om Jesus af te dwing van sy kruisweg, niks minder as ‘n duiwelse gedagte is nie (Mark 8:33). Lees verder>>

Kies die lewe!

“Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem” (Deuteronomium 5:33).

Een van die werklik troosvolle perspektiewe in die Bybel is dat die Bose se mag nie net uiterlik deur die God van Christus hokgeslaan en begrens is nie.

Ook innerlik, na binne, is die Bose se mag beperk. Wat beteken dat die Bose nooit sonder mense se samewerking kan funksioneer en sy slopende werk kan doen nie. Regdeur die Bybel, beginnende reeds by die paradysverhaal, sien ons hierdie beperkingspatroon. Lees verder>>

Paal en perk aan sy mag

Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in … Jesus was saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg (Markus 1:12-13).

Jare gelede het die bekende teoloog-filosoof, Hennie Rossouw, ‘n praatjie oor die duiwel by ‘n kamp vir studente op Stellenbosch gehou.

In die praatjie het hy allereers die Bybelse perspektief onderstreep dat daar inderdaad ‘n duiwelse boosheid in ons wêreld los en werksaam is. ‘n Ander belangrike punt was dat, terwyl ons die werk van die Bose nie moet onderskat nie, ons dit ook nie durf óórskat nie.

Die rede daarvoor, het hy aangevoer, is omdat die Bose ‘n oorwonne mag is. Omdat Christus deur sy kruisdood en opstanding uit die dood reeds van buite paal en perk aan die Bose se mag gestel het. Lees verder>>

Eietydse gode en bindinge

Jy mag naas my geen ander gode hê nie (Exodus 20:3).

Nóg iemand wat diep nagedink het oor die invloed van negatiewe magte in ons lewe, is die Britse Anglikaanse priester, Mark Oakley.

Hy praat in dié verband van hedendaagse gode wat ons lewe bedreig. Hierdie gode, so betoog hy, bind ons om blindweg sekere keuses te maak – keuses wat nie altyd gesond vir ons is nie en ons geleidelik wegtrek van ons ware bestemming as mense.

Enkele van hierdie bindinge waarmee die eietydse gode ons verstrik en so van ons vryheid beroof, is: Lees verder>>

Oor steurende afhanklikhede

Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die glas, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos ‘n slang, spoeg hy gif soos ‘n kobra (Spreuke 23:31-32).

In sy nadenke oor wat die bose en negatiewe magte is wat ons kan verslaaf, gebruik die Katolieke geestelike, Ignatius van Loyola, ‘n interessante en verhelderende term.

Hy praat van verwarrende of steurende afhanklikhede (“disordered attachments”).

Hierdie afhanklikhede, aldus Ignatius, is verwant aan die verskeidenheid van hebbelikhede en liefdes wat van nature in ons leef. Hulle is onder andere liefde vir ons familie, volk, party, mag, sukses, geld, drank en plesier, waaronder natuurlik ook seks. Lees verder>>

1 105 106 107 108 109 128