Atlas?

Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas (Matt 27:50).

In sy alombekende en klassieke werk Die pelgrim se reis na die ewigheid beskryf John Bunyan die lewensloop van “Christen”, die hoofkarakter in die boek. In ’n stadium van sy lewe dra Christen so swaar aan die groot las op sy skouers. Vooroor gebuig sukkel hy voort, moeg en moedeloos.

Die las? Sy sondeskuld! Dan kom Christen by die kruis op Golgota aan. Hy kyk na die Een wat aan die kruis hang … en voel hoe die swaar las van sy skouers afglip. Verlos en vergewe gaan hy voort, gekromde skouers reguit, met veerkrag in sy tred, met nuwe moed. Die swaar vrag skuld laat hy aan die voet van die kruis lê.

In die Griekse mitologie is daar die verhaal van Atlas wat deur Zeus gestraf is om die aarde op sy skouers te dra. Hierdie god het nie die genade van ons God betoon om Atlas van sy swaar las te verlos nie. Maar ons hoef regtig nie soos Atlas onder die aardbol van ons sondelas rond te steier nie. Ons kan dit by Golgota los. Jesus het dit daar op sy skouers geneem. So swaar was die las dat Hy daaronder hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het (Matt 27:50).

Daarom kan jy asem skep. Staan regop. Pak die lewenspad met nuwe moed aan.

Jy is van jou sondelas verlos. Jy is vergewe.

Skep asem. Staan regop. Jy is verlos. Jy is vergewe.

Here, skenk aan my die genade om my sondelas by die kruis te los en, wanneer ek daar verligting ervaar het, my skouer onder ander se laste in te druk en hulle te help dra om só u wet van genade en liefde te vervul. Amen.

Johan Cilliers

Eens en vir altyd

Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het (Heb 7:27).

Die blye boodskap van skuldvergifnis sê dat God ons uiters ernstig opgeneem het. Veral ons sonde. Karl Barth het gesê God het ons sonde so ernstig opgeneem dat dit die dood van sy geliefde Seun gekos het. Maar, sê hy ook, noudat God dit gedoen het, neem Hy ons sonde glad nie meer so ernstig op nie. Hiermee wou die groot teoloog sê: In Christus het God ons skuld afgeskryf. Dit is, soos die Hebreërbrief by herhaling sê, eens en vir altyd afgehandel (7:27; 10:2). Dit is agter die rug; dit is verby. God dink nie weer daaraan nie.

Die vraag is: Dink óns nog aanhoudend oor sondes wat bely en vergewe is? Bly ons nog tob oor die skuld van die verlede? Baie mense is geneig om gedurig terug te krabbel na dinge wat was. In sekere sin kan ’n mens seker sê: Hulle neem hulle sonde glad te ernstig op …

As ons dit doen, sê ons Golgota was nie doeltreffend nie. En dit kan tog nie wees dat God alles vergewe het nie. Dit is net te goed om waar te wees. Ons self moet seker darem ook iets bydra om ons skuld weg te neem, of minstens minder te maak?

Wie só redeneer, verstaan nog nie die wonder van die evangelie nie. Die blye boodskap van vergifnis het nog nie behoorlik tot hulle deurgedring nie. Dit ís goed genoeg om waar te wees. God hét alles vergewe. Uit genade.

Baie mense neem hulle sonde glad te ernstig op.

Here Jesus, keer dat ek weer en weer my eiegeregtigheid te probeer verruil vir die “eens en vir altyd” van u genade. Amen.

Johan Cilliers

Bene uit die water

As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Joh 1:8).

Om werklik uit die vergifnis te kan leef, moet ons eers ontdek dat ons vergifnis nodig het, broodnodig het. Ons moet daarom instem dat ons sondaars is met skuld wat weggeneem moet word.

Juis dit is vir ons so moeilik. Ons gooi jakkalsdraaie rondom skuldbelydenis. Telkens probeer ons ons uit die doodloopstraat van ons sonde maneuvreer. Asof ons dit kan doen!

Ons is soos ’n man wat in ’n bootjie op ’n rivier sit en sy een been in die water laat hang. As iemand hom daarop wys dat dit dalk gevaarlik is weens die vleisetende visse en die krokodille in die rivier, trek hy sy been gelate terug in die boot … en laat die ander been in die water afsak.

Ons wil maar net nie toegee nie; ons wil nie erken dat ons skuldig is nie. Ons is óf moedswillig óf ons verstaan nie met watter gevaarlike speletjie ons besig is nie.

Johannes stel dit helder en duidelik: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh 1:8). Ons moet ’n slag eerlik na onsself kyk. Ons behoefte aan en ons afhanklikheid van die vergifnis van ons skuld sal ons moet bely. En ons been uit die water optrek.

Ja, die ander een ook …

Ons gooi jakkalsdraaie rondom skuldbelydenis, maar ons het ’n groot behoefte daaraan.

Here, help my om my speletjies met die krokodil te staak voordat ek ’n been verloor. Amen.

Johan Cilliers

Groot Verlosser vir groot sondaars

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde (Ps 103:8).

“Ek is ’n groot sondaar,” het ek eendag iemand hoor sê, en toe voeg hy by: “Maar ek het ’n groot Verlosser!”

Hierin lê so baie opgesluit. Eerstens wys dit dat hierdie man insig gehad het in die bodemlose dieptes van ons sonde – iets wat min van ons insien of wíl insien. Wie kan in elk geval die sonde “verstaan” en bly leef? Maar tweedens toon hierdie woorde ook insig in die liefde en vergifnis van God in Christus wat groter as ons sonde is. Hierdie vergifnis het nie grense nie!

Die digter van Psalm 103 het hom reeds hieroor verwonder:
Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af
(103:8-12).

Wat ’n groot Verlosser! Vir groot sondaars! Soos ek.

God se vergifnis het nie grense nie.

Here, hanteer my tog nie vandag op grond van my gedrag nie, maar op grond van u genade! Amen.

Johan Cilliers

Bewys van God se genade

“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe” (Matt 6:14-15).

Wanneer ons bely: “Ek glo aan die vergewing van sondes,” is hier twee dimensies van vergifnis betrokke: ’n vertikale dimensie, dit wil sê, God vergewe ons, en ’n horisontale dimensie, dit wil sê, ons moet ook ander mense vergewe. In die Bybel is daar ’n onlosmaaklike band tussen hierdie twee dimensies van vergifnis. Dink byvoorbeeld aan Jesus se uitspraak in Matteus 6:14-15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Maar let nou op: Jesus sê nie hiermee dat ons vergifnis van ander mense die voorwaarde is op grond waarvan God ons (moet) vergewe nie. Dit spel eerder die logiese gevolg uit van ons vergifnis deur die Vader. Die Duitse teoloog Schabert sê onder meer hieroor: “Wie vergewe is, vergeef ander, en wie ander vergewe, word vergewe.” Die een is soos die ander! Dit is soos mense wat op pad is: Hulle kom iewers vandaan en gaan iewers heen. Wie ander mense vergewe, kom altyd iewers vandaan – vanuit die vergifnis van God; maar hulle is ook altyd iewers heen op pad – om ander te vergewe. Dat ons die voorneme het om ander mense te vergewe en dit dan ook doen, is ’n bewys van God se genade in ons lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, Vraag 126).

Het jy al God se vergifnis gesmaak? Laat ander dan ook.

“Wie vergewe is, vergeef ander, en wie ander vergewe, word vergewe.”

Here, skenk my die genade van vergifnis, om uit genade te vergewe. Amen.

Johan Cilliers

Almal is daar!

Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie (Op 7:9).

Die gemeenskap van die heiliges sluit ook in dié wat ons in die heerlikheid vooruitgegaan het, wat reeds voor die troon van God is en wat Hom vir ewig dien (Op 22:3). Nie alleen is die gemeenskap van die heiliges dus die ecclesia militans (die strydende kerk) nie, maar ook die ecclesia triumphans (die triomferende kerk).

In Openbaring 7:9-17 kry ons as’t ware ’n hemelse perspektief op die kerk, ’n perspektief van bo of, beter nog, vanuit die einde. Hier tref ons die kerk in sy finale triomf aan, ’n kerk wat sy ewige tuiste en doel bereik het. Hier, soos elders in die boek Openbaring (sien 21:1-8), sien ons die kerk ná die aardse stryd, ná die groot verdrukking (7:14), ná al die geloofsaanvegting.

Nie ’n enkele gelowige het verlore gegaan nie! Johannes sien ’n groot menigte wat niemand kon tel nie. God tel hulle. Hulle kom uit elke nasie, stam, volk en taal om voor die troon en voor die Lam te staan (7:9). Hulle is die 144 000 van wie die voorafgaande perikoop praat (7:1-8). Só het God hulle getel: 12 x 12 x 1 000. Die eerste 12 dui op die aartsvaders, dus ’n simbool van die totale volk van God onder die ou verbond. Die tweede 12 dui op die apostels, dus ’n simbool van die totale volk van God onder die nuwe verbond. Die 1 000 is ’n simbolies volmaakte getal, ’n getal wat alleen aan God bekend is. Almal, al 144 000, is daar!

Ook jy!

Nie ’n enkele gelowige het verlore gegaan nie.

O Here, tel my! Amen.

Johan Cilliers

Ewige gemeenskap

Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het (Ef 3:14-15).

Ons as die gemeenskap van die heiliges strek ons uit na al die gelowiges wat reeds geleef het, wat nog moet kom, en na die ewige gemeenskap met mekaar en die engele voor die troon van God.

Daar word vertel van ’n vreemde ervaring wat Johann Christoph Blumhardt, ’n Duitse predikant uit ’n vorige eeu, eenkeer beleef het. Hy het hom baie bekommer oor die redding van ’n man in sy gemeente, ene Gottliebin Dittus, wat skynbaar besonder gebonde was deur die Bose. Op ’n dag het Blumhardt en van sy vriende te perd in ’n woud gaan ry. Op weg het die pragtige woorde van ’n lied oor die oorwinning van Christus oor die Bose in sy gees vorm aangeneem. Hy het hierdie woorde met sy vriende gedeel en hulle het dit spontaan begin sing, op die wysie van ’n destyds bekende lied. Toe hulle by ’n verligte opening in die woud kom, word hulle bewus van ander stemme wat ook sing, hoog bo in die boomtoppe, engelestemme. Die stemme van mense en engele het so vermeng geraak dat die gemeenskap in die hemel en op die aarde een geword het.

Versterk deur die teken het hulle huiswaarts gekeer. Wie sou hulle tegemoetkom? Gottliebin Dittus, al singend. En wat sing hy? Die lied wat die mans en die engele so pas saamgesing het, ’n lied wat geen mens hom kon geleer het nie omdat Blumhardt die woorde so pas uitgedink het. Merkwaardig? Ja, seker vir 20ste-eeuse Westerlinge. Maar dan, die Vader voor wie ons kniel, is merkwaardig. Hy wil geprys word. Op aarde, soos in die hemel. Wie weet, straks hoor ook ons die engele saam met ons lofsange tot sy eer sing.

God wil geprys word. Op aarde, soos in die hemel.

Vader, ek voeg my stem by die koor. Dankie dat U hoor. Amen.

Johan Cilliers

God se bloeisels

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het (Ef 1:14).

’n Bejaarde man was jare lank ’n invalide. Hy het in ’n armoedige omgewing in ’n armoedige huisie gewoon, op die grens van ’n steengroef. Elke dag het hy op die agterstoep in sy rolstoel gesit en uitgekyk oor die hope en hope steenkool. Iemand wat hom kom besoek het, het gevra of hy nie neerslagtig word as hy so teen die somber toneel sit en vaskyk nie. Hy het geantwoord: “Sien jy die peerboom daar? Dit is nou winter en hy het nie blare aan nie, maar as die lente kom, verskyn die groen blaartjies en dan volg die spierwit bloeisels. Teen die swart agtergrond is hulle witter as wit! Dit is vir my ’n teken dat God hierdie wêreld, ook hierdie swart steenkoolwêreld, ja, ook my rolstoelwêreld, nie verlaat het nie. Die bloeisels wys dat God nou werk, en dat Hy iets gaan doen wat selfs nog beter is, net soos Hy die bloeisels later omsit in pere. Nee, ek raak nie neerslagtig nie. Die bloeisels gee my hoop om te leef.”

Die kerk is God se bloeisels teen die donker uitsig van hierdie wêreld, ’n teken van hoop, van beter dinge wat kom. Want die Heilige Gees wat in ons, God se gemeente, woon, is die waarborg dat ons “ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (Ef 1:14).

Wanneer mense na jou kyk, wat sien hulle? Iemand wat die uitsig op ’n donker terrein van neerslagtigheid en wanhoop deel? Of iemand wat hulle heenwys na God se bloeisels van hoop?

Die kerk is ’n teken van hoop, van beter dinge wat kom.

Here, laat my bot vir U, en U vir die wêreld wys. Amen.

Johan Cilliers

Geniet jy God?

Prys God in sy heiligdom (Ps 150:1).

Die kerk is die oefenplek vir ons lof. God moet wel oral en altyd geloof en geprys word – ook in die alledaagse en die aardse – maar die kerk bied ’n spesifieke Godgegewe ruimte waarbinne ons kan leer om dit te doen, waar ons kan kom instem, noot kan vind vir sy lof in die wêreld, elke dag. Psalm 150 sê: God moet veral geprys word in sy heiligdom (150:1), dit wil sê, in die samekoms van die gelowiges.

Ten spyte van die sangvernuwing in baie gemeentes is daar nog baie gemeente of minstens lidmate wat God heeltemal te min en te onentoesiasties loof. Dikwel is ons lof in die kerk maar vaal en futloos. Dit gebeur wanneer ons nie kerk toe gaan met die doel om God daar te loof nie. Dit kan natuurlik ook gebeur dat ’n mens God uitbundig met die mond loof omdat jy emosionele bevrediging daaruit kry, terwyl dit nie werklik ’n reaksie is op die grootheid van God waarvan jy opnuut in die erediens bewus geword het nie.

Wanneer daar na watter kant toe ook al iets skeefloop met ons lof in die erediens, ontbreek die lof ook in ons lewe van elke dag. Maar, die doel van kerkwees is onder meer juis dit: om van Sondag tot Sondag ’n lofprysende gemeenskap te wees, in wie se persoonlike lewe dit ook sigbaar is.

Die van Westminster-kategismus vra: “Wat is die hoogste en vernaamste doel van die mens?” En antwoord dan: “Om God te verheerlik en Hom volmaak tot in ewigheid te geniet.” Geniet jy (nog) vir God? Of is jou geloofslewe ’n eentonige roetine, ’n loflose geploeter? Gaan voortaan kerk toe, en wêreld toe, met hierdie lofprysing: “Here, ek wil U loof!” (Ps 139:14).

Is jou geloofslewe ’n loflose geploeter? Jy mag maar God geniet!

O God, U is my hoogste goed, my ewige genot! Dankie vir die genade. Amen.

Johan Cilliers

Deur die dieptes

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Hand 16:25).

Die kerk is ’n gemeenskap in lof en lyding. Dikwels is dit juis ’n gemeenskap van lof ín lyding! Sien ’n mens dit beter as in die geskiedenis van Paulus en Silas in die tronk in Filippi (Hand 16:16-34)? Hier sit die kerk in die kleine in boeie en blokke. Hulle het alle rede om alle hoop te laat vaar. Hulle rûe is oopgekloof deur die gesel. Om hulle is dit donker en bedompig en eensaam – ’n koue, klam kerker.

Maar wat doen hulle? “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25).

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing. Maar daar in Filippi het hulle saamgesing. Hulle stemme smelt saam, word een in hulle lof aan God. Die ander gevangenes het so iets nog nooit gehoor nie. In plaas van ’n gejammer hoor hulle ’n gejubel! Die lof van Paulus en Silas kring uit, dit raak die medegevangenes en later selfs die geharde tronkbewaarder (16:27-34).

Baie van ons meen dat ons eers moet wag totdat omstandighede reg is voordat ons God (kan) prys. Nee, prys God in jou krisis, nood, siekte en swaarkry. Doen dit saam met ander gelowiges in hulle moeilike omstandighede. Jy sal verstom staan oor die trefkrag daarvan.

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing.

Here, in my nood wil ek ’n noot aanhef. Maak dit ’n simfonie. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 4 5 6 147