Papegaai

Lees Psalm 139:4.

Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees (v 4).

Here, daar was mos die tye dat ek
U gesoebat het om die wag voor my mond
wakker te hou. Toe ek gereeld te gou
gepraat en tog te trots met my hart
op my mou geloop en rondpronk het.

“’n Reguit mens …” het ek graag oor myself gesê.
En krom woorde skuinsweg uitgespuug
en eers te laat tot besinning gekom.

Ag, Here, ek praat steeds te gou; te sonder dink.
En steeds ly almal, en dalk ook u koninkryk,
en beslis ék daaronder. Ek is jammer, Here.
Te meer nog omdat U dubbel en dwars
daardeur getref word –
U wat my hoor, én vooraf reeds weet hoe dit gaan klink.
Dit is sekerlik geen plesier om my so te moet aanhoor nie.
Daar is min opbouends daaraan; niks nuuts nie.
Niks om oor huis toe te skryf nie. Dit bly maar dieselfde
ou voor die hand liggende, onoorspronklike ék.
Naprater, agterna-prater.
Papegaai.

Ag, Here, help my tog! Help die mense rondom my.
Red u koninkryk van my en my haastige mond.
Laat my dink voor ek praat en mense met my skerp tong kwets.
En leer my asseblief iets nuuts om te sê: ’n nuwe manier om te groet
én op ander se groet, se vrae, se vriendelikheid te antwoord.
Laat my goed luister na ’n ander se hart voordat ek reageer.
Help my om nie in elke gesprek ’n gaping vir ’n kwinkslag te soek nie.
Help my om my gevatte antwoorde eers terug te hou.
Om my gespreksgenote allereers in die oë te kyk
vir tekens van seer en onvrede, óf blydskap.

Was my mond uit, Here.
Reinig my tong.
En leer my om, al gaan dit stadig,
agter U aan te praat.
Amen.

Barend Vos