Professionele bedelaar?

Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis (1 Pet 1:3-4).

Die opstanding van Christus uit die dood waarborg vir ons ’n lewende hoop. Waarop? 1 Petrus 1:3-4 sê dit so mooi: “op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis” wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. En dié erfenis sluit die opstanding van die vlees in: Die liggame waarmee ons sal opstaan, sal ook onverganklik, onbesmet, onverwelklik wees.

Wat ’n ryk erfenis! Ons is multimiljoenêrs!

Ek het êrens gelees van ’n ou bedelaar wat in ’n klein, bouvallige gehuggie naby Parys in Frankryk gewoon het. Elke aand het hy met die trein na die middestad gereis om te gaan bedel. Hy was ’n “professionele” bedelaar! Bedags het hy geslaap. Sy huis was baie deurmekaar, want hy het alles, ook die geld wat hy gebedel het, sommer laat rondlê. Dikwels het mense hom dae aaneen nooit uit sy huisie sien kom nie. Op ’n dag het ’n buurman bekommerd geraak en die polisie gevra om te gaan kyk wat van hom geword het. Hulle het hom daar in die chaos van sy huisie aangetref, gesond maar ondervoed. Hulle het aangebied om sy huisie ’n bietjie op te ruim. Al die geld wat oral rondgelê het, sommige daarvan jare al, het hulle in ’n bank gaan inbetaal. Tot hulle verbasing hoor hulle daar dat die bedelaar in werklikheid ’n miljoenêr is. Hy het dit net nie geweet nie … Hulle het die goeie nuus met hom gaan deel. Hy het na hulle geluister, en dieselfde nag nog na Parys gegaan … om te bedel!

So is ons ook. Skatryk. Met ’n erfenis in die hemel wat nou al vir ons ’n nuwe lewe beteken (1 Pet 1:3). En tog, so dikwels is ons professionele bedelaars … Breek die gewoonte! Verheug jou nou al in die rykdom wat jy reeds het en wat vir jou wag.

Here, leer my om ooreenkomstig my “krediet” in u bank te leef. Amen.