Prys Hom, julle daarbó!

Lees Psalm 148:1-6.

Prys Hom, hoogste hemele … (v 4).

Dit is nie moeilik om jou dit te verbeel nie: hoe die maan en die sterre hul Skepper se Naam verkondig. Daar is mos min dinge wat die Goddelike handtekening so onnabootsbaar uitwys soos die Januarie-naghemel in hierdie Suiderland. Kyk net ’n slag óp, wys met die vinger en sê verwonderd: Daar is hy! En hý en hý …

En wanneer die son voordag sy verskyning maak, duur dit nie lank nie of jy, aardgebonde skepsel, leer ken jou Heiland opnuut. Die somerson laat jou koes en skuiling soek, hy is nie jou speelmaat nie. Vir hóm hoef jy nie te soek nie, hy vind jou dadelik – en jy wéét dit.

So kom die son op en gaan weer bloeiend onder. En soos gis­teraand verskyn die sterre en gaan hul skitterende gang. Alles ver­loop volgens plan. Volgens Plan.

Meestal laat dié voorspelbare patroon geen spoor in ons stof­trappers se gemoed nie. Dit is soos dit hoort, reken ons terwyl ons onder ons elkedagse las voortsteier.

Maar soms, net sóms, kyk ons op en sien God se vingerafdrukke in die hemelruim raak. Hoe die son se dartelende, vuurwarm dans die lug in beweging bring. En snags, wanneer dit milder geword het, hoor jy die ritme in die sterre se vonkelende naglied.

Spits dan maar ook jou ore vir die vlerkgeklap van ’n uil of ’n engel. Dalk kom daar ’n boodskap vir jou, vannag nog, spesiaal vir die begin van hierdie jaar.

Here in die hemel, God van my hart: Hoor ook mý pryslied. Só wag ek op U.

– Barend Vos