Prys Hom, julle hieronder!

Lees Psalm 148:7-14.

Prys die Here van die aarde af, seediere … berge … vrugtebome, al die seders … wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, konings … jong manne en meisies, grysaards … (v 7-12).

Dit is ’n groot koor hierdie, dié van die aarde se bewoners. Daar is hulle wat loop en hulle wat swem, daar is die vlieërs en die kruipers en die voortbrengers van vrugte en van hout.

Jonk en oud, man en muis. Bloubloed en onderdaan.

Hulle is almal deur die wind en die weer versamel met die opdrag om God te prys. Sy Naam is groot! moet hulle sing. Sy gesag, sy eer, strek van horison tot horison.

Vir die psalmdigter kom hierdie uitgebreide stuk lofbeeldspraak asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is. Wat hom betref, is dit vanselfsprekend dat alles en almal wat deur God se hand tot stand gekom het Hom sal loof.

Vanselfsprekend? Regtig? Is “prys die Here!” dan ooit ’n natuur­like reaksie? Ook vandag, by mense soos ons? Wanneer het lof­liedere dan ons geloofskenmerk geword?

Het hierdie halleluja-uitroepe nie maar intussen ’n soort beïn­drukwaarde gekry nie? ’n Luidkeelse manier om God en medemens te laat verstaan dat hier darem ’n skitterende voorbeeld van vrome dankbaarheid aan die woord is?

Hopelik sorg die dawerende lof uit die skepping dat ook die skep­sels – juis hulle wat God met woord en lied en groot gebaar aanbid – by die massakoor inval. Sonder voordoen of vertoon. Net maar om dié rede: Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.

Hemels is u majesteit, heilig u geregtigheid. U wat alles onderhou, U is ewig en getrou.

– Barend Vos