Respekteer ander

Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was (Filippense 2:1-5).

Hoe leef ons op Jesus se onselfsugtige pad in hierdie selfsugtige wêreld van ons?

Saam met CS Lewis moet ons leer om anders te dink voordat ons anders sal begin leef. Paulus help ons hiermee in Filippense 2:5 wanneer hy skryf dat dieselfde gesindheid wat in Jesus was toe Hy aarde toe gekom het ook in ons moet wees. Paulus se opsomming hiervan is: “Die een moet die ander een hoër ag as homself.”

Wanneer ons begin dink ander mense is regtig belangrik, ongeag wie hulle is, dink ons reg. Wanneer ons hulle ooreenkomstig behandel, leef ons reg. Wanneer ons elke dag doelbewus daarop ingestel is om reg te dink en reg te doen aan ander, raak ons vergeetagtig wat ons eie eer en regte betref. Só groei nederigheid. Só word ons dissipels wat soos Jesus met ’n onvoorwaardelike liefde vir mense lewe, sê Willem Lotter.

Alle mense het immers ’n diep behoefte om menswaardig behandel te word. Tog gun ons dit nie aldag vir mekaar nie, selfs al roep die Bybel ons daartoe op. Christene wat geleer het om vergeetagtig te leef ten opsigte van hulle belangrikheid, het al hoe meer respek vir ander. Hulle sien ander waarlik raak. Dit is soms so eenvoudig soos om eerste te groet. Of om ’n praatjie met hulle aan te knoop. Soms is small talk juis die regte ding op die regte oomblik en die kortpad na iemand se hart.

Toe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in 1984 die Nobelprys vir vrede ontvang het, vertel hy van ’n gebeurtenis wat ’n groot indruk op hom gemaak het. As jong kind het hy eendag by sy ma in die plakkerskamp gestaan. ’n Wit man in priesterklere het by hulle verbygestap. Dit was Trevor Huddleston. Toe hy Desmond Tutu se ma raaksien, het hy sy hoed uit respek gelig en haar beleefd gegroet. “I couldn’t believe my eyes – a white man who greeted a black working-class woman.”

Hierdie een gebaar van nederigheid het die jong Desmond Tutu geleer dat egte geloof alle grense tussen mense uit die pad leef. Dit het die pad voor hom gebaan vir ’n lewe van toewyding aan die saak van geregtigheid en aan God.

Here, help my om te leef met liefdevolle respek wat brûe tussen mense bou. Ek wil graag ander hoër ag as myself, want dit is wat U vir my gedoen het. Amen.