Rusdag

Lees Psalm 92:1-4.

Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste (v 2).

Here, die ritme wat U vir ons bedink het
– ’n rusdag ná moeilike werkdae
en voor ’n onbekende week –
pas ons perfek.

Op dié oggend klim die son anders uit.
U helder teenwoordigheid is blakend sigbaar.
Sonder om twee keer te dink, roep dit ’n nuwe danklied op:
Daar groei ’n wysie in my hart, met woorde wat juigend pas.

Die dag verloop teen halfpas; selfs stadiger.
Die ure sleep, genadiglik. U goedheid word uitgerek.
En U deel asem uit aan hulle met ’n bors wat brand:
U gee hulle ’n lafenissie in die hand,
U troos hulle voor die nuwe opdraand.
Vir hulle breek U nuwe brood.
U tafel is ’n gratis bron, die weggeeplek.
Oase van verkwikking.

En wanneer die milder lig uiteindelik verduister
word en die aandwind sy kop suutjies lig, dan gloei
u goedheid steeds. Nou selfs troostender, sagter,
tot ’n heimlike hoop op ’n genadiger tyd wat wag.

Maar die rusdag se donkeraand krap my, helaas, gewoonlik om:
Dit bring ’n belaglike blou uur; lê ’n leeftyd se melancholie bloot.
Dit dreig om u goedheid te bederf en kry dit ongelukkig meestal reg.

Daarom wil ek U nou mooi vra, Here:
Bevestig tog vroegoggend se wonderwysie;
onderstreep asseblief die woorde.
Omvorm my lied tot ’n loflike simfonie.
’n Magtige klank teen die klaagsang in my hart.

Ja, Here, maak my maklike oggendlied
’n dralende, troostende aandgesang.
En laat die naklank my die week in vergesel.
En tot in ewigheid.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: