Lees Levitikus 25:1-19.
“Dit moet vir julle ’n jaar van algehele rus wees. Julle, julle slawe … julle dagloners … bywoners …” (v 6-7).
Ander tye, ander voorskrifte. Ses jaar se saai en snoei en oes, gevolg deur ’n sewende jaar waartydens daar nie gesaai, gesnoei of geoes word nie. ’n Jaar waarin die boorde en landerye rus. Soos ook die mense wat daarin werk en daarvan lewe.
Wat sal hulle dan eet? God sal voorsien. So eenvoudig soos dit. Ag nou ja, sug ons. Ons, die hedendaagse werkers en werk-
gewers, kopers en verkopers, genieters en verbruikers. Sal dit nou nie salig wees nie! Het óns maar in daardie tyd geleef. Het ons maar so ’n eenvoudige geloof in die Voorsienigheid gehad …
Die waarheid is dat hierdie sabbatsjaargebod nie met óns lewe rym nie. Ons werk en laat werk, ons eet in oordaad en verbruik asof daar nie ’n môre is nie. Dit is wat ons aan die gang hou. Ons jaag produksierekords, ons leef onsself moeg, ons sterf lank voordat ons ons laaste asem uitblaas.
Dit is so anders as wat die goeie Gewer daarmee bedoel het. Die lewe wat God gee, is ’n geskenk. Dit is van wieg tot graf genadetyd. Die Here leef – en daarom laat Hy leef. Ons minag Hom as ons nie ook leef en laat leef nie.
Ons verstaan Hom verkeerd as sy opdragte ons moeg maak. Ons vergryp ons gruwelik aan hierdie lewe as ons dit sonder sabbatte deurbring. Om boonop die mense in ons diens van hul leef-tyd te ontneem, is ’n klap in God se gesig.
Hierdie sabbatsjaarvoorskrifte is vreemd, ja. Ons voel ons nie regtig daarin tuis nie. Maar die rede vir dié vreemdheid het straks meer met goddelose gierigheid as met ’n stokou Levitikus te doen.
Verlos my, o Here, van my grenslose selfliefde. Leer my leef, tot u eer.
Barend Vos