Lees Psalm 106:13-15.
Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef (v 14).
Here, ons kan eenvoudig nie wag nie!
In hierdie tyd dat alles eintlik reeds gister
moes gebeur het; dat ons jaag en gejaag word
en daar geen ruimte meer vir asemskep is nie,
reken ons dat óns op u onverdeelde aandag geregtig is.
Nou. Dat U – vergewe my! – tog moet gou spring.
Ons is nie anders as daardie ou woestynvolk nie,
Here. Hul arrogansie en ondankbaarheid is ook maar
ons s’n. Ons laat ons ook nie teregwys nie. Ons haal ons
wêreld se gewoontes en aangeleerde onbeskoftheid op U uit:
ons eis en vereis. Ons is vol voorwaardes en o, so vól van onsself.
En die eerste ironie is dat U ons dikwels, soos ’n moedelose ouer,
ons sin gee. U voorsien in ons uitgegilde hartsbegeertes.
Net om te moet sien hoe ons dit minag.
Soos stout kinders, bedorwe brokkies.
Is daar hoop vir ons, Here?
Sal dit beter word?
Sal ons ooit leer?
Die verdere ironie is dat U bloot
ons welsyn op die oog het –
U wil hê dat dit met ons sal goed gaan;
dat die lewe ons nie in sy kake kry, fyn kou
en uitspoeg nie – en daarom weerhou U
bepaalde dinge van ons; daarom skerm U
die gevaar van ons af. Ter wille van ons sê U:
“Nee!”
En ons?
Ons kla, want ons wil dit hê – nou!
Ons trippel rond, want ons moet dit kry – gou!
Ons gaan lê op die grond, skop en skree.
Gaan staan eenkant, dikmond, kwaad.
Sal ons óóit grootword, Here?
Amen.
Barend Vos